OUDTSHOORN NUUS - Daar is sedert verlede week wye reaksie op 'n stemopname van Anton Bredell, provinsiale minister van plaaslike regering, ontwikkelingsbeplanning en omgewingsake, waarin hy die moontlikheid aan raadslede voorhou om Oudtshoorn onder administrasie te plaas.
Die stemboodskap wat tydens 'n vergadering in Desember 2019 opgeneem is, is die afgelope week per WhatsApp versprei en het selfs die nasionale media gehaal.
In die opname van minder as 'n halwe minuut verduidelik Bredell aan DA-raadslede dat administrasie van Oudtshoorn 'n einde kan bring aan struwelinge en dat die raad met die burgemeester steeds kan voortgaan. Hy noem ook dat dit vir die kiesers sal wys dat die DA ernstig is oor die dorp se herstel.
Met die verspreiding van die stemboodskap het verskeie stemme opgegaan teen wat mense beskou as 'n politieke poging om die dorp te kaap.
Die Oudtshoorn Courant het verlede Dinsdag 'n navraag aan Bredell gestuur en Donderdag 'n antwoord van Bredell se woordvoerder, James-Brent Styan, ontvang. In die verklaring sê Styan die minister is bewus van 'n "beweerde geheime opname" wat daarop sinspeel dat die minister beplan het om beheer oor Oudtshoorn te neem.
Volgens hom is die stemopname van 15 sekondes slegs 'n klein deel van 'n DA-koukusvergadering van meer as twee ure wat in Desember plaasgevind het.
Hy verduidelik die agtergrond van die opname as volg: "The MEC, as chairperson of the DA in the province was briefing the DA councillors of Oudtshoorn and providing them with legal clarification relating to administration options, SHOULD the council decide to undertake that route."
Styan sê verder dat die munisipaliteit 'n hele aantal uitdagings, waaronder die burgemeester wat intussen bedank het, in die gesig staar. Hy verwys na wedersydse klagtes wat gelê is, ondersoeke deur die Valke en finansiële volhoubaarheid van die munisipaliteit as redes vir die vergadering en dan ook die moontlikheid van administrasie.
Volgens Styan was die gesprekke van Bredell met die DA-raadslede 'n poging om normaliteit in die munisipaliteit te bewerkstellig sodat dienslewering ononderbroke kan voortgaan.
Hy sê dat Bredell 'n rekord het om nooit sy magte as politieke voorsitter en as amptenaar van die regering te verwar en oorskry nie en voeg by dat die opsie om administrasie nie onwettig is nie aangesien 'n soortgelyke besluit in samewerking met minister Pravin Gordhan drie jaar gelede geneem is om Oudtshoorn se probleme op te los.
Bredell het as volg op die stemopname gereageer, "In fact, the recording makes it clear I was putting the needs of the people of Oudtshoorn first ahead of the party. If an administration of a sort had indeed happened, it would have meant the DA - my own party - would not have been in control. This further points out the flaws in the allegations making the rounds at the moment."
Ongeag die agtergrond en die inhoud van die koukus-vergadering, is dit duidelik dat daar tans 'n geweldige magspel onder raadslede aan die gang is. Met die bedanking van Colan Sylvester, as burgemeester verlede week, is dit algemene kennis dat verskeie DA-raadslede hulle nie by koukusbesluite bepaal nie en dat 'n raadsvergadering waarskynlik nie met eenstemmigheid onder die DA-lede gehou sal word nie.
Vrydag se raadsvergadering is uitgestel nadat 'n groep inwoners toegang tot die munisipale gebou probeer verkry het. Dit is nog nie bekend wanneer die vergadering wel gaan plaasvind nie.
Intussen is politieke partye besig met die proses om burgemeesterskandidate te nomineer.
Sou die DA-raadslede in hierdie week eenstemmigheid bereik, sal Oudtshoorn se nuwe burgemeester waarskynlik 'n DA-kandidaat wees. Indien daar egter steeds tweespalt onder die party se raadslede is kan die aanstelling van 'n burgemeester vir die DA 'n taai toffie raak.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'