OUDTSHOORN NUUS - ’n Egpaar van Oudtshoorn wat op altesaam 39 aanklagte van versekeringsbedrog en geldwassery skuldig bevind is, is verlede Woensdag in die streekhof tot altesaam 33 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Ricardo Bowkers (49) wat tans ‘n vonnis van 12 jaar uitdien is op 22 aanklagte skuldig bevind en sy vrou, Desiree (48), is op 17 aanklagte skuldig bevind.
Hulle het op slinkse wyse valse eise by Santam ingedien en hul weergawes is deur streeklanddros Nsoki Moni verwerp.
Desiree Bowkers het volgehou dat sy niks van haar man se bedrywighede weet nie terwyl sy wel bankrekeninge in die name van hul twee seuns geopen het, waarin Santam duisende rande betaal het. Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof meegedeel dat Ricardo Bowkers, nie ‘n eerste oortreder is nie en sedert 2009 verskeie kere straf opgelê is en al voorheen gewaarsku is om as gewoontemisdadiger verklaar te word.
Hy is jammer vir die egpaar se twee seuns, maar direkte gevangenisstraf is die enigste gepaste vonnis vir die misdade waarna die twee skuldig bevind is.
Ricardo Bowkers is tot 16 jaar vir bedrog en 10 jaar vir geldwassery gevonnis wat eers in werking tree na die uitdiening van die vonnis wat hy tans besig is om uit te dien.
Sy vrou, wat volgens die hof tot ‘n mindere mate by die misdade betrokke was, is tot sewe jaar vir bedrog en ses jaar vir geldwassery gevonnis wat samelopend uitgedien kan word.
Albei is onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Voorts het die hof ook gelas dat Ricardo nie vir parool in aanmerking mag kom voordat hy nie twee derdes van sy vonnis van 26 jaar uitgedien het nie.
Wenzel Botha van die Regshulpraad het namens Desiree, en adv. Pieter van Wyk namens vir Ricardo verskyn.
Die Valke se eenheid vir ernstige kommersiële misdade in George het die ondersoek gelei.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’