Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Inwoner van De Hoop buite Oudtshoorn is Dinsdagoggend oorlede kort nadat sy met haar fiets in 'n botsing met 'n motor betrokke was.
Isabel Nel (65) was 'n ywerige fietsryer en volgens 'n persoon na aan haar het sy elke oggend gaan fietsry.
Die ongeluk het op die R62 (Calitzdorp-pad) tussen die Volmoed- en Lategansvlei afdraaie gebeur.
Volgens kaptein Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie is Nel Dinsdagoggend tussen 08:30 en 08:45 deur 'n Toyota Etios getref. Die bestuurder van die Etios kom volgens Visser van Humansdorp af.
Volgens die persoon met wie Oudtshoorn Courant Dinsdag gepraat het, was Nel se man nog te geskok deur die voorval om met die media te praat. Sy het gesê Nel is met ernstige beserings hospitaal toe geneem, maar sy het kort na haar aankoms beswyk.
'n Jong familielid van haar het op die ongelukstoneel afgekom. Die polisie het teen druktyd geen verdere inligting beskikbaar gehad nie.
Die oorsaak van die ongeluk word nog ondersoek.
Vorige artikel: Fietsryer sterf op R62
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'