OUDTSHOORN NUUS - 'n Botsing by die kruising van Rademeyer-straat en Langenhovenweg gisteroggend om 05:45 was die tweede ernstige botsing by 'n kruising waaroor motoriste reeds jare kla.
'n Ford-bakkie van die departement van korrektiewe dienste wat vanaf Knysna na die Oudtshoorn-gevangenisterrein onderweg was het 'n Renault Kwik getref toe dit Langenhovenstraat uit Rademeyerstraat oorgesteek het. Die Ford-bakkie met twee amptenare en 'n gevangene agter in die voertuig het die Renault op die linkersy getref waarna die Renault teen 'n muur vasgery het.
Die vyf insittendes van die Renault is werknemers van 'n sekerheidsmaatskappy en was onderweg werk toe. Een van die passasiers het beserings aan haar onderlyf opgedoen, een het hoofbeserings opgedoen en 'n derde persoon het 'n beenbesering opgedoen. Hulle is op die toneel behandel en per ambulans hospitaal toe geneem.
Die twee lede van korrektiewe dienste is ongedeerd. Hulle het die agterkant van die voertuig op versoek van die polisie oopgesluit sodat paramedici kon bepaal of die gevangene beseer is. Hy het gekla van 'n seer nek en is vir observasie na die siekeboeg by die gevangenisterrein geneem.
Twee weke gelede is drie voertuie beskadig en vier mense beseer by nog 'n berugte kruising in die hoofpad wat deur Oudtshoorn loop. Daardie botsing het by die kruising van Van der Riet- en Baron van Reedestraat plaasgevind.
Die ongelukstoneel.
Inwoners rig reeds jare lank versoeke dat kruisings in Langenhovenweg en Baron van Reedestraat waar gereeld botsings voorkom, beveilig moet word. Omdat dit egter 'n provinsiale pad is wat deur die dorp loop, blyk dit dat die oprigting van verkeersligte of stopstrate nie 'n eenvoudige proses is nie.
Lees 'n verwante artikel: Botsin in Middedorp
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'