OUDTSHOORN NUUS - Die 2019 Eden Straatmylreeks se mediabekendstelling is verlede Woensdag by die ATKV Hartenbos aangebied. Hans van der Veen, voorsitter van die KKAF-reëlingskomitee het opgewonde aangekondig dat Jean Verster van die Noordwes-Universiteit (NWU PUK) toegetree het as borg van die reeks.Verster het ook genoem dat die NWU oorweging skenk daaraan om in 2020 die ankerborg te word.
Bestmed was die titelborg oor die afgelope drie jaar, maar het vroeër vanjaar aangekondig dat hulle borgskap nie verleng sou word nie.
2018 het 'n rekordgetal deelnemers en uitstaande prestasies opgelewer, maar met die onttrekking van Bestmed se borgskap en die onvermoë om nuwe borge te vind, was die organiseerders aanvanklik verplig om die reeks wat gewoonlik oor drie wedlope strek, tot twee te beperk.
Met die toetrede van NWU, gaan 'n derde myl op 18 Desember by die De Jager -atletiekbaan op Oudtshoorn plaasvind en lyk die toekoms van die reeks belowend.
Die Eden Straatmylreeks het oor die jare 'n ryk geskiedenis opgebou. Die Hartenbos ATKV Straatmyl is die oudste straatmyl in Suid-Afrika en word reeds ononderbroke sedert 1983 aangebied.
Die Klein Karoo Straatmyl wat in Baron van Reedestr op Oudtshoorn gehardloop word, is in sy elfde jaar. Die straatmyl eindig voor die CP Nel Museum, voorheen bekend was as Boys High Oudtshoorn, wat die alma mater van De Villiers Lamprecht Suid-Afrika se eerste droommylatleet, is.
DB Prinsloo van Vrystaat Universiteit (UVS) het ook by die mediabekendstelling aangekondig dat UVS vanjaar hulle borgskap verhoog om die organiseerders te help om atlete groter prysgeld te betaal. UVS se verhoogde bydrae stel die organiseerders in staat om 'n totaal van R66 500 aan prysgeld uit te betaal.
Belangstelling onder die atlete lyk goed met NWU, Kovsies, UWK, Endurocad en die immergroen Riversdal Super Kids wat aangetoon het dat hulle beplan om deel te neem. Jerry Motsau (NWU) wat in 2013 en 2017 gewen het sowel as Simonay Weitsz (UP) 2015 wenner, het aangedui dat hulle kom.
Oudtshoorn se bekende Ettiene Plaatjies, wat in 2012 tweede geeïndig het, het ook aangedui dat hy vanjaar vir Loyd Bosman en Godwin Heyns wil uitdaag vir die prys vir die beste ASWD prestasie.
Vanjaar se reeks bestaan uit twee wedlope op Oudtshoorn (16 Desember in Baron van Reedestraat en 18 Desember by die De Jager-atletiekstadion) en eindig op 20 Desember op Hartenbos. Besoek www.edenmiles.co.za vir meer inligting of om aanlyn in te skryf.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'