OUDTSHOORN NUUS - Nicole Booysen is verlede Vrydagaand in Sky Lounge & Bar as wenner van die eerste Diva Battle-skoonheidskompetisie gekroon.
Altesaam 10 deelnemers het deelgeneem aan die glansryke geleentheid, wat lede van die LGBT-gemeenskap ingesluit het.
Die modelle het nie teleurgestel nie en het die ondersteuners en klubgangers deurentyd na hul asems laat snak met hul asemrowende uitrustings waarin hulle foutloos en gesinchroniseerd geparadeer het.
Rowan Morrison en Melicia Sny het as seremoniemeesters opgetree, terwyl B-girl Salie die gehoor met danspassies vermaak het.
Volgens die organiseerder, Danian America, is hierdie suksesvolle Diva Battle-skoonheidskompetisie maar net die begin van groot dinge wat hy beplan.
"Alhoewel ek ’n gesoute beoordelaar by skoonheidskompetisies is, was dit vir jare my droom om eendag my eie skoonheidskompetisies aan te bied. Nie in my wildste drome sou ek kon dink dat die Oudtshoorn-gemeenskap my in hul hordes sou ondersteun nie en vir dit wil ek hulle graag bedank.
"Ek het ook vele boodskappe ontvang vir die manier waarop die Diva Battle georganiseer was. Dit is natuurlik alles te danke aan die twee maande wat ek vooraf met die modelle geoefen het sodat alles seepglad kon verloop. Aan die einde van die dag het ons harde werk vrugte afgewerp en kan ons nou net daarop voortbou," het 'n trotse America gesê.
America het al die borge en beoordelaars bedank wat die aand 'n wegholsukses gemaak het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'