OUDTSHOORN NUUS - Wyndham Ewerts van die Oudtshoorn Courant het vandeesweek by Oudtshoorn se wêreldkampioen-meestersatleet, Toy Ungerer, kers opgesteek oor wat die man op straat en atlete kan doen om gedurende die Covid -19 inperkingstyd fiks en besig te bly.
Hier is Ungerer se nuttige fiksheidwenke en roetine wat sy self toepas:
"Ek het al baie gedurende hierdie inperkingstydperk gedink iemand moet 'n boek skryf met idees en illustrasies veral vir diegene soos ek wat nie kan stilsit nie. Elke ou het maar sy eie idee van hoe hy dit wil benader."
"Sy persoonlike omstandighede, oefenruimte en apparate tot sy beskikking sal natuurlik 'n rol speel.
"Kom wat wil, atlete sal 'n manier vind om hulle besig te hou!
"Een dag trap ek my oefenfiets dat dit klap op ons balkon wat uitkyk op Spitskop naby De Rust terwyl die son opkom - alles terwyl my man nog heerlik slaap.
"Die volgende dag maak ek al wat 'n deur en hekkie is oop. Dan begin my staproetine in en om die huis, trappe op deur die kombuis, by die deur uit en af met die trappe verby die stoep en weer trappe op en so hou ek aan vir 'n halfuur lank. Daarna kyk ek eers bietjie TV terwyl ek ontspan.
Opwarmimgsoefeninge.
Toy loop haar woning se trappe op en af.
"Na dit trap ek weer my oefenfiets vir 'n halfuur lank voordat ek my 10 plastiektralies op ons grasperk 'n meter uitmekaar spasieer om met sywaarts daaroor te spring. Ter afsluiting gebruik ek dan 'n atletiekhekkie en spring so tien keer daaroor. Dan is my oefensessie vir die dag voltooi.
"So kan elkeen sy eie oefenroetine uitwerk wat pas vir hom en as jy 'n maatjie het wat dit ook by sy huis doen is dit nog te beter. Julle kan dan lekker idees uitruil wat jy sommer by jou eie program kan inwerk."
Volgens ons president, Cyril Ramaphosa, sal die inperkingsrëëls tot einde van die maand geldig wees en kan sommige sommer met hulle oefenprogramme volhou ter wille van 'n algemene gesonder leefstyl.
Strekoefeninge
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'