Update
OUDTSHOORN NUUS - Die week het met twee botsings begin. In die eerste botsing Maandagoggend in Baron van Reedestraat is drie voertuie omstreeks 08:30 beskadig.
Alhoewel een voertuig onherstelbaar beskadig is, was daar geen beserings nie.
Die botsing het by die kruising van Baron van Reede- en Victoriastraat plaasgevind.
Die bestuurder van 'n Hyundai Accent was in die linkerbaan in die rigting van die grotte onderweg terwyl 'n ander voertuig in die regterbaan gewag het om in Victoriastraat in te draai.
'n Bakkie van 'n konstruksiemaatskappy het van voor af gekom en voor die Hyundai ingedraai. Volgens die bestuurder het hy nie die aankomende Hyundai gesien nie.
Die Hyundai het die bakkie teen die kant getref. Die bakkie het getol en sy agterkant het 'n tweede bakkie wat by die stopstraat gestaan het, getref.
Die tweede en ernstiger, botsing het Maandagaand omstreeks 19:30 naby die berugte Perdeskoendraai op die George-pad gebeur.
Die Potgieter-bussie met agt passasiers en 'n Fiat Uno met drie volwassenes en 'n tweejarige seun was in die ongeluk betrokke.
Dit blyk egter dat die botsing deur 'n derde voertuig, wat nie op die toneel stilgehou het nie, veroorsaak is.
André Potgieter, eienaar en bestuurder van die bussie, het op die toneel gesê hy het opgemerk dat 'n blou 518 BMW, wat 'n ent voor hom gery het, by tye heen en weer oor die pad geswenk het.
Die skade aan die bussie nadat dit die sykant van die Uno getref het.
"Dit het gelyk of die bestuurder dronk was soos hy gery het."
Aan die onderpunt van die Perdeskoendraai het 'n Fiat Uno van voor af gekom.
"Op daardie stadium het ek al stadiger gery omdat ek kon sien die BMW ry sleg," het Potgieter gesê. Die BMW het skielik na regs voor die Uno ingeswaai.
Om 'n botsing met die BMW te vermy het die bestuurder van die Uno regs geswaai en voor die bussie beland.
Die bussie het die Uno getref waarna die Uno die pad verlaat en omgeslaan het. Potgieter sê dit het eers gelyk asof die BMW gaan stilhou, maar dit het toe versnel en weggery. Niemand in die bussie is beseer nie.
Een van die passasiers in die Uno is met 'n fraktuur en kneusplekke hospitaal toe geneem. Sy tweejarige seun en die ander twee insittendes is nie beseer nie.
Die toneel van die botsing in Baron van Reedestraat waartydens die bakkie voor die Hyundai ingedraai het. Foto's: Hannes Visser
Volgens Jamal Mullat, die bestuurder van die Uno, het hy instinktief uitgeswaai om die BMW te vermy.
Mullat en sy passasiers is van Bangladesj en besit 'n winkel in George. Hulle was op pad terug George toe na 'n besoek aan vriende in Oudtshoorn.
Die beseerde man se vrou het Woensdagoggend gesê hy is oorgeplaas na die George-hospitaal en verkeer nog in baie pyn. Sy sê sy is dankbaar dat niemand anders in die botsing seergekry het nie.
* Die Oudtshoorn Courant was hierdie week op die toneel van nog twee botsings wat plaasgevind het. Dinsdag het 'n vrou met 'n geleende motor teen 'n Absa OTM in die parkeerarea van die Queen's Mall gebots nadat sy die versneller en die rem van die outomatiese motor verwar het.
Woensdagmiddag was daar 'n botsing by die indraai na Chandelier-wldsplaas toe 'n afleweringsvoertuig van agter teen 'n bakkie gebots het wat stadiger gery het om by Chandelier in te draai.
Lees verwante artikels:
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'