OUDTSHOORN NUUS - Die droom van wyle dr. David Piedt dat die KKNK die hele gemeenskap moet insluit, het die afgelope vyf jaar duidelik gestalte gekry met Karoo Kaarte.
Dié projek onder leiding van teaterman Neil Coppen, en visuele kunstenaar, Vaughn Sadie, het die afgelope vyf jaar honderde jong mense betrek en hulle produksies is reeds vir verskeie toekennings benoem.
Met vanjaar se KykNET Fiësta-toekennings het Karoo Kaarte die Blou Fiësta-toekenning vir uitsonderlike werk ontvang.
Die Fiëstas beoordeel projekte en aanbiedinge van al die groot feeste landwyd en dit maak dié toekenning nog meer uitsonderlik.
Behalwe vir Coppen en Sadie, is al die mense wat by Karoo Kaarte betrokke is, inwoners van Oudtshoorn. Die bekroonde verhoogstuk, Die Swartmerrie wat verlede jaar opgevoer is, is maar een van die uitvloeisels uit die Karoo Kaarte-projek. Volgens Coppen en Sadie fokus Karoo Kaarte op die stories van mense in Oudtshoorn. Daar is reeds 'n magdom stories, foto's en stemopnames versamel en bewaar wat die geskiedenis van Oudtshoorn vertel.
Vanjaar se projek fokus op foto's. Honderde foto's is beskikbaar gestel uit die Saamstaan-, Gibson-, Jonker- en Wicomb-versamelings. Die foto's is te sien in die uitstalling, Kiekies, langs die toerismekantoor en ook in vanjaar se KKNK-aanbieding, Spoel.
Tydens die opening van Kiekies, het 'n emosionele Sadie gesê dit is ongelooflik om te sien hoe plaaslike jongmense die geleenthede aangegryp en die afgelope vyf jaar ontwikkel het. Karoo Kaarte betrek elke vorm van die kunste, vanaf teaterwerk en visuele kuns tot navorsing, optekening en bewaring.
Die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Ricardo Mackenzie en die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het die opening van Kiekies bygewoon en Mackenzie het gesê stories is die basis van elke gemeenskap, en het onder andere gesê, "As mense hulle stories vertel, leer ons hulle ken."
Winde en Mackenzie het ook die opening van vanjaar se Absa-visuele kunsuitstalling in die Prince Vintcent-gebou bygewoon, waar Winde mense aangemoedig het om kuns te koop en produksies by te woon. "'n Skildery wat jy vandag hier koop, kan dekades later meer werd wees as jou huis," het hy gesê.
Die amptelike opening van die 30ste KKNK het Maandagmiddag in die Absa-kuierkamer op die feesterrein plaasgevind.
Dit was 'n emosionele en nostalgiese opening waartydens die vorige hoofde van die KKNK, Karin Meiring, Brett Peyper en Rhode Snyman sowel as stigterslede en mense wat reeds die afgelope 30 jaar betrokke is, hul stories gedeel het.
Amanda Strydom is uitgesonder as die kunstenaar wat by elk van die 30 feeste opgetree het.
Uit die gesprekke en stories van elke deelnemer, was dit duidelik dat Nic Barrow se droom om 'n Afrikaanse kunstefees in Oudtshoorn aan te bied, ontwikkel het tot iets wat veel wyer strek as bloot 'n Oudtshoorn-fees. Die KKNK is werklik die moeder van alle feeste wat landwyd gevolg het.
Vorige berigte:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’