OUDTSHOORN NUUS - Patrick Blaauw van Oudtshoorn is Maandag 26 Augustus as voorsitter van die Tuinroete-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) verkies.
Volgens Blaauw was al 21 polisiestasies se stasiebevelvoerders en GPF-voorsitters in George by die polisiehoofkwartier byeen vir die verkiesing.
Die verkiesing is voorafgegaan deur ‘n inligtingsessie wat deur Vuyani Mhbaqa van die departement polisie-oorsig en gemeenskapsdienste aangebied is. Die voorsitter van die Wes-Kaapse GPF het die verkiesing gelei.
Blaauw verduidelik dat daar tydens die distriksverkiesing in die provinsie net 'n voorsitter en ondervoorsitter verkies word.
"Tussen September en Desember word die uitvoerende bestuurslede van die sub-forums wat by elke polisiestasie gesetel is verkies. Die stasiebevelvoerder moet toesien dat organisasies wat persone nomineer sekere dokumente voltooi en ‘n siftingsproses ondergaan om te kyk vir enige kriminele rekords. Nadat die stasiebevelvoerder tevrede is met die kandidate word hul name op ‘n nominasie lys gevoeg vir die verkiesing. Alleenlik net goedgekeurde organisasies en of persone word in so ’n verkiesing toegelaat," verduidelik hy.
Blaauw sê hy is opgewonde oor sy nuwe posisie.
"Een van die eerste take wat ek nou sal aanpak is om te help toesien dat munisipaliteite voldoen aan wetgewing om hul gemeenskapsveiligheidsplanne in plek te hê en natuurlik ook toesien dat hul veiligheidsforums in plek moet sit. Hierdie strukture help dat ons kollektief misdaad kan aanpak en natuurlik departemente verantwoordelik hou wat nie hul kant bring nie."
Kontakbesonderhede
Pblaauw59@gmail.com / 071 520 9231
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’