OUDTSHOORN NUUS - Drie personeellede van die CJ Langenhoven-biblioteek het verlede Vrydag 'n skelm, wat 'n 62-jarige man van sy selfoon beroof het, gevang en die selfoon aan die man terugbesorg.
Vollie Volschenk, 'n inwoner van Gottlandhuis op Oudtshoorn, sê wat veronderstel was om 'n heerlike dag te wees het Vrydagmiddag in 'n onaangename ondervinding ontaard.
"Ek het die middag die biblioteek besoek en toe ek uitstap het ek die man buite by die deur gewaar.
"Ek het regtig gehoop hy vra nie vir geld nie, want ek het nie op daardie stadium gehad om vir hom te gee nie.
"Ek loop op die oomblik baie moeilik en maak van krukke gebruik en daarom dra ek gewoonlik my selfoon in my hemp se sak sodat dit maklik bereikbaar is.
"Toe ek by die deur is gryp hy die selfoon uit my sak en laat spaander."
Volgens Volschenk het die personeel van die biblioteek gesien wat gebeur het.
"Ek het verstar gestaan oor wat gebeur en ek kon hom nie eens keer nie.
"Die personeel het egter by die deur uitgestorm en hom net betyds gevang."
Volgens Thembinkosi Mjewu, een van die personeellede wat Volschenk gehelp het, was hy agter besig toe twee vroue, Zimkhitha Harris en Dorothy Plaatjies hom roep.
"Ek en Zimkhitha het die skelm agter die biblioteek gekry. Ek het hom om sy skouer gevat en vir Zimkhitha gevra of dit hy is. Ons het die selfoon in sy sak gekry.
"Ons het hom terug biblioteek toe geneem en die polisie laat kom. Hy is toe gearresteer. Hy het ook 'n skerp wapen by hom gehad."
Volschenk sê hy sal die drie helde ewig dankbaar wees.
"Dit is deur sulke optrede wat 'n mens weer in Oudtshoorn moedskep. Ek wil graag self met die munisipale bestuurder praat in verbinding tree sodat hy hulle ook op 'n gepaste wyse vir hul onbaatsigtige daad kan vergoed.
Vollie Volschenk (62) is verlede Vrydag van sy selfoon beroof.
"Ek ken hulle glad nie, maar hulle is altyd vriendelik en behulpsaam as ek in die biblioteek kom. Ek sal graag eendag saam met hulle 'n lekker koppie koffie wil drink," het hy gesê.
Sers. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudsthoorn-munisipaliteit, sê 'n 18-jarige man is vir 'n roofklag in hegtenis geneem.
ARTIKEL EN FOTO: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'