OUDTSHOORN NUUS - Sonja Louw, die vrou wat in November verlede jaar na bewering op heterdaad betrap is na sy inwoners se huise in Karoopark-aftreeoord aan die brand wou steek, is verlede Vrydag borgtog in die Oudtshoorn-landdroshof toegestaan.
Louw is op 21 November 2018 borgtog geweier omdat sy nie 'n alternatiewe adres kon verskaf nie. Sy het aanvanklik by haar suster, Marie Alberts, in Karoopark gewoon, maar die inwoners van die oord het 'n interdik teen Louw bekom omdat hulle nie wil hê sy moet in die oord woon nie.
Louw staan tereg op vier aanklagte, drie van brandstigting en een van poging tot brandstigting.
Volgens Louw se kriminele rekord het sy skuldig gepleit op vier vorige sake teen haar. Een van aanranding (2014), twee van diefstal (2010 en 2014) en een van bestuur sonder 'n rybewys (1992).
Vaughn Shone, Louw se prokureur, het Vrydag aan die hof gesê dat 'n vrou van Volmoed, buite Oudtshoorn, bereid is om aan Louw alternatiewe verblyf te gee.
Die landdros het borgtog van R1 000 toegestaan onder voorwaarde dat sy nie alkohol of enige ander dwelmmiddels mag gebruik nie, sy nie by Karoopark mag kom of haar suster daar besoek nie en sy mag ook nie met die staatsgetuies in meng nie.
Die saak is na 4 Februarie uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'