OUDTSHOORN NUUS - Leiwater in Oudtshoorn. Destyds het CP Rademeyer, eienaar van die plaas Hartbeestenrivier baie druk ontvang om 'n gedeelte van sy plaas vir die uitleg van Oudtshoorn af te staan.
Hierdie plaas was geleë langs die laer loop van die Grobbelaarsrivier.
Die eienaar van dié plaas was verplig om, ingevolge die bepalings van die verkoopvoorwaardes en wel binne agt maande na die verkoopsdatum, waterleivore en 'n uitkeerdam of -damme in die Grobbelaarsrivier te ontwikkel.
Die leiwatersloot voorsien Oudtshoorn van so vroeg as 1847 van besproeiingswater.
Waterbeurte was volgens 'n rooster bepaal en sluise in die leiwatersloot was op sekere tye en dae oopgemaak om water af te keer na erwe wat regte gehad het.
- Op 12 Augustus 1847 het ‘n advertensie in Hollands en Engels in die Government Gazette verskyn, waardeur bekend gemaak is dat ‘n groot aantal water- en droë erwe op die plaas Hartbeestenrivier, buite Oudtshoorn, opgeveil sou word.
- In 1847 het die landmeter, J Ford, 476 (oorspronklik 500) erwe in Oudtshoorn uitgelê. Erwe het water vanaf ‘n leiwatersloot, wat uit die Grobbelaarsrivier kom, ontvang.
- Elke erfbesitter of -bewoner het een vyfhonderdste deel van die water in die Grobbelaarsrivier besit.
- Soos die inwonertal in Oudtshoorn gestyg het, het die besoedeling in die leiwatersloot ook toegeneem.
- In 1879 word daar by die parlement aansoek gedoen om £10 000 te leen vir die aanbou van ‘n dam en opgradering en skoonmaak van die watersloot. Die erwe wat by die skema sou baat het ‘n ekstra waterheffing betaal om die lening binne 21 jaar af te betaal.
- Sommige bure het nie by die waterdistribusierooster gehou nie en talle hofsake tussen bure en selfs familie, is oor leiwater wat gesteel word, voor die landdros gebring.
- Op Sondae het die stroom water ongehinderd na die kerkgronde gevloei vir die kerk se gebruik.
- Waterbeurte in Oudtshoorn was opgedeel in die Oosbank en Wesbank van die Grobbelaarsrivier en daar moes streng gehou word by die waterdistribusierooster om te verseker dat dit jou beurt is om water af te keer.
- Beurtwater word vandag deur die strate en stormwater departement van die munisipaliteit bestuur, aangesien dit deel vorm van die konstruksie van die paaie in Oudtshoorn. Beurtwater word vandag nog aan erwe, wat leiwater regte het, voorsien.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'