OUDTSHOORN NUUS - Daar is goeie nuus vir inwoners wat bekommerd is oor toegangsbeheer en veiligheid by die stortingsterrein. Die munisipaliteit het Woensdag aangekondig dat 'n betonheining van 2,2 km binne die volgende aantal maande rondom die bestaande stortingsarea opgerig word.
Volgens Aurelia Oliphant, kommunika-siebeampte van die munisipaliteit, het 'n kontrakteur, Hyman Konstruksie, reeds verlede maand met die werk begin.
Plaaslike kontrakteur en 20 inwoners is deel van die projek en sal finansiële voordeel uit die oprigtingswerk trek. Die projek om die Grootkop-stortingsterrein te omhein word met R3,8 miljoen uit die nasionale regering se Munisipale Infrastruktuur Toekenning (MIG), gefinansier.
Volgens Rodwell Witbooi, bestuurder: soliede afval, word strategiese en volhoubare stappe geneem om te verseker die terrein voldoen aan die wetlike vereistes. Die stortingsterrein is ten volle operasioneel en word voortdurend gerehabiliteer.
"Ons handhaaf 'n geïntegreerde werksverhouding met belanghebbende groepe en regeringsfere om te verseker daar word voorsien aan die behoeftes van die breë gemeenskap in die Groter Oudtshoorn. Grootskaalse projekte sal verder volg waarby 'n gunstige omgewing geskep sal word vir informele herwinbare materiaal sorteerders om dus herwinning op die terrein op 'n higiëniese en veilige werkswyse aan te pak," het hy gesê.
'n Spesifieke voltooiingsdatum is nie verskaf nie, maar volgens Oliphant sal die projek binne die volgende aantal maande voltooi wees.
'n Gedeelte van die betonheining wat reeds opgerig is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'