OUDTSHOORN NUUS - Die Wesbank-tennisklub het tydens sy algemene jaarvergadering sy bestuur vir nog 'n termyn behou.
Die bestuur vir 2023/24 is Louis Uys (voorsitter), Louis Pienaar (visevoorsitter), Theunis Kruger (tesourier), Danie Steyl (sekretaris), Dirk Potgieter, Hanlé Kok, Pieter van der Walt en Kobus Diepraam (bykomende lede).
Uys het in sy voorsittersverslag die bestuur bedank vir hul toewyding en sonder vergoeding hul vrye tyd opoffer om aandag te skenk aan sake van die klub.Die klub se finansies is redelik gesond en die koopkragstelsel wat vir die aankoop van krag vir die baanligte geïnstalleer is werk ook goed.
Hoewel min lede aan die sosiale tennis op Woensdae en Saterdae deelneem, is daar wel 'n toegewyde groepie wat gereeld deelneem en hy het 'n beroep op bestuurslede sowel as ander lede gedoen om aan sosiale tennis deel te neem.
Uys het die twee afrigters, Pieter van der Walt en JK Koch, bedank vir hul positiewe bydrae om tennis onder jongmense aan te moedig en sodoende ook belangstelling in die klub se aktiwiteite te bevorder.
Volgens Uys het niks gekom van vroeëre beloftes van die Oudtshoorn-munisipaliteit om te help met die opgradering van die bane soos die skenking van ligte en pale nie.
Afgesien daarvan, word die klub se bane tans opgeknap en behoort binnekort in 'n beter toestand te wees.
Volgens Uys was die kermis wat die klub laat verlede jaar aangebied het, baie suksesvol met 'n mooi bedrag wat ingesamel is. Dit het gehelp met die klub se bydrae om die herseël van die bane te finansier. Hy het spesiale dank betuig aan sakemanne, besighede en individue vir hul bydrae. Verlede jaar se klubkampioenskap is ook baie goed ondersteun.
Tydens die vergadering is besluit dat lede ouer as 80 jaar voortaan vrygestel word van ledegeld, terwyl ledegeld ietwat verhoog is.
Ledegeld vir volle lede is verhoog van R1 300 na R1 400, spelers bo 70 jaar van R600 na R650, gesinspakkette vanaf R750 na R800 terwyl ledegeld vir juniors onveranderd bly op R400 per jaar en aansluitingsgeld R250.
Die koste vir besoekers bly ook onveranderd op R30 per speler per dag.
Belangstellendes wat by die klub wil aansluit kan die voorsitter by 082 835 8555 of die sekretaris by 078 469 3727 skakel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’