OUDTSHOORN NUUS - Die watervlak van twee damme wat besproeiingswater aan landbou in die Oudtshoorn-omgewing verskaf is kritieklaag. Die Stompdrift- en Kammanassiedamme, se vlakke is tans onderskeidelik op 5,8% en 3,7%.
Die water in die damme word bestuur deur Riaan Krüger van die Stompdrift-Kammanassie Watergebruikersvereniging (SKWGV). Water vanuit die damme word met kanale tot naby Calitzdorp afgevoer. Volgens Kruger bedien die damme 'n groot area met ongeveer 150 kommersiële boere en kleinboere.
Water word in leibeurte volgens kwota uit die damme vrygelaat. Volgens Kruger is geen leiwater in die 2017/2018 periode vrygelaat nie. "Vir baie jare is die normale kwota gereeld aan die besproeiingsboere toegeken, maar as gevolg van die droogte, asook onregmatige onttrekkings in die opvangsgebiede, lyk die jongste syfers so: 2015/16 - normale kwota; 2016/17 - 40% van kwota; en 2017/18 - absoluut niks (0% van kwota)," het hy hierdie week gesê.
Geen invloei
Volgens Krüger is die skokkendste feit dat daar sedert 2015/16 baie min of geen invloei van water in die damme voorgekom het nie. Ongeveer 15 km bokant die Kammanassiedam in die Kammanassierivier is 'n vloeimeter wat die normaalvloei aandui.
Dit beteken dat die water wat oor dié meter na die dam toe vloei, aandui hoeveel water met die rivier afgekom het. 'n Week later word tot 'n maksimum van 50 kusek (5 000 kubieke meter/uur) – vir die boere vrygelaat, wat presies moet ooreenstem met die water wat oor die vloeimeter geloop het.
Johan Koegelenberg (links), voorsitter van die Stompdrift-Kammanassie Watergebruikersvereniging (SKWGV), Riaan Krüger, uitvoerende beampte van die vereniging, en Charl Marais, waterbeheerbeampte by die Stompdriftdam. Foto's: Tisha Steyn
"'n Paar jaar gelede het dié maksimum invloei/uitlaat gereeld gebeur, maar hier is die jongste skok: Die laaste keer wat die invloei by 50 kusek gekom het was op 11 November 2015.
Die water het afgeloop en op 21 De-sember gestop. Toe was daar absoluut geen invloei tot 3 Augustus 2016, en hierdie was ook net 'n skamele 9 kusek, wat gehou het tot 31 Oktober 2016."
Indringerplante
Die probleem word vererger deur indringerplante in die bolope van die Kammanassierivier. "Die werk-vir-water programme is afgeskaal en die laaste beheerde brande het in 1997 plaasgevind," sê Krüger. Toe die program voluit gewerk het, is die boomstompe wat afgesaag is, in die rivierlope gelos en dit het in die Kammanassiedam beland.
Omdat die stompe die watervloei uit sluise waardeur water vrygelaat moet word kan belemmer, moet dit verwyder word, maar volgens Kruger het die staat nog geen aanduiding gegee wanneer dit gedoen sal word nie."
Die damme se opvanggebiede is dekades gelede as staatsbeheerde gebiede verklaar met skriftelike beperkings op enige uitbreiding van besproeiing en die bou van damme, maar hierdie beperkings word nie streng toegepas nie. "As gevolg hiervan het die afloop na die dam oor jare dramaties afgeneem en, al reën dit goed in die opvangsgebied, kom die water nie by die dam uit nie.
"Met genoeg water kan ons 150 boere absoluut wondere verrig, die ekonomie stimuleer en werkloosheid hier omtrent uitwis – maar die broodnodige minimum hoeveelheid water daarvoor is nou al vir baie lank bloot net nie beskikbaar nie," sê Krüger.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'