OUDTSHOORN NUUS - Die hooffunksie van 'n besigheidskamer is om ekonomiese groei in 'n dorp te stimuleer en te bevorder. Dit was die boodskap van Gideon Badenhorst, voorsitter van die Oudtshoorn-besigheidskamer, tydens hulle algemene jaarvergadering verlede Donderdagaand.
Volgens Badenhorst het die ledetal van die besigheidskamer gesonde groei die afgelope jaar getoon met 'n ledetal wat tans 160 besighede verteenwoordig. Hy het na die komitees verwys wat deur die besigheidskamer gestig is om verskeie kwessies in die dorp aan te spreek, en gesê dat elke komitee besig is met hulle onderskeie werksaamhede wat onderwys, skoonmaak, veiligheid, maatskaplike verantwoordelikheid en die, Ek is Oudtshoorn-projek insluit.
Die kwessie wat die meeste reaksie van gaste ontlok het, was veiligheid van die middedorp. Verskeie sakemanne het benadruk dat die huidige probleem met straatkinders en bedelaars nie toegelaat kan word om aan te gaan nie en die meerderheid van sprekers was dit eens dat dit 'n kwessie is wat die munisipaliteit dringend moet ondersoek.
"Waarom moet besighede miljoene rande aan munisipale belasting bydra en dan ook nog self betaal vir sekerheidswagte om die strate veilig te hou?" het een gevra.
Met verwysing na planne om inkoopsentra buite die dorp op te rig het een van die sakemanne gesê hy dink ontwikkelaars is selfsugtig en kortsigtig om besigheid uit die middedorp weg te lok. Hy is van mening dat die besigheidskamer juis daarop moet fokus om sakeondernemings in die middedorp te beskerm. Dieselfde spreker het ook gevra of water een van die besigheidskamer se prioriteite is.
Die bestuur van die Oudtshoorn besigheidskamer is Donderdagaand tydens hulle algemene jaarvergadering aangekondig. Van links is: Jacobus Maloney, Jaco Vorster, Stephan Cornelissen,Gideon Badenhorst (voorsitter), De Villiers Neethling en Hennie Davel.
Gideon Badenhorst het verwys na geskeduleerde gesprekke met die munisipale bestuurder wat uiters positief ervaar is. Hy het egter gesê die besigheidskamer vind dit betreurenswaardig dat die burgemeester nie die gesprekke bygewoon het nie.
"Dit is juis vir ons belangrik dat die politieke leiers van die dorp aktiewe rolspelers moet wees en daarom is dit jammer dat die burgemeester nie aan die gesprek deelgeneem het nie. Die besigheidskamer gaan nie weer toelaat dat politici die dorp terugvat nie."
Kunste Onbeperk, wat die KKNK aanbied, het die aand geborg. Die maatskappy se artistieke direkteur, Hugo Theart, het sakelui bedank vir hulle ondersteuning van die fees en die versekering gegee dat die fees wat vanjaar vir die 25ste keer aangebied word, weereens 'n groot ekonomiese inspuiting vir die dorp beteken.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'