LADISMITH NUUS - 'n Bekende besigheid, Halfway Store, is die afgelope naweek deur twee booswigte beroof.
Die rooftog was glo baie gewaagd en die verdagtes ewe dapper. 'n Vrou, wat uit vrees vir haar veiligheid haar naam weerhou vertel: "Ek was op pad werk toe toe ek oral polisievoertuie met blou ligte en 'n hele aantal polisielede sien staan het."
Die eienaars van die besigheid het aan Oudtshoorn Courant vertel dat die twee inbrekers die veiligheidshek met 'n koevoet oopgebreek en binne gestorm het.
"Hulle het ons beveel om die kontant van ongeveer R21 000 aan hulle te oorhandig. Verder het hulle hulself aan sigarette van ongeveer R2 500 gehelp."
Intussen het Oudtshoorn Courant ook verneem van 'n onverwante rooftog in die middedorp waar selfone van derduisende rande geroof is toe diewe toegang deur die dak verkry het.
Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sê twee verdagtes is aangekeer in verband met die roof by Halfway Store.
"Die polisie het inligting ontvang dat daar by 'n spaza-winkel ingebreek is. Puik speurwerk het gelei tot die arrestasie van twee verdagtes. Klagtes van besigheidsroof word ondersoek."
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'