PRINS ALBERT-NUUS - Die organiseerders van die Prins Albert-leesfees het die opwindende nuus gedeel dat vanjaar se leesfees in samewerking met The Showroom aangebied word.
Dit beteken dat die volle leesprogram in dié ikoniese Art Deco-teater aangebied gaan word. Die Prins Albert-leesfees vind vanaf 30 Augustus tot 1 September plaas en het 17 skrywers op die program.
Die program sluit onder andere 'n poësie-oggend teen sonsopkoms in die opelug amfiteater in asook 'n filmvertoning van die gewilde Hans Steek die Rubicom oor deur Rudi van Rensburg.
Die musikant, Petronel Baard, gaan saam met 'n digter op die verhoog wees. Die deelnemers aan die program word oor die volgende aantal weke op die Facebook-blad van die Prins Albert-leesfees bekendgestel. Sidney Gilroy, Petronel Baard en Chris Vorster het alreeds kort video's gedeel om mense na die fees te nooi.
Vanjaar se leesfeesprogram bult behoorlik met uiteenlopende aanbiedinge wat skrywers, digters, uitgewers, musikante en akteurs in sowel Afrikaans as Engels insluit.
Daar word beplan om die gewilde skryf- en digkompetisie wat 'n aantal jare gelede aangebied is, ook weer in te stel. Inligting oor die skryfkompetisie wat op ongepubliseerde skrywers van die Karoo sal fokus, sal binnekort bekendgemaak word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’