Update
OUDTSHOORN NUUS - Die uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn, Chris Macpherson, het verlede week Bellinganhof-aftreeoord se versorgingseenheid op uitnodiging besoek.
Volgens Colleen Fourie, bestuurder van Bellinganhof, het hulle die burgemeester genooi as 'n daadwerklike stap om 'n vennootskap met die munisipaliteit te vestig.
Macpherson en twee raadslede, George Kersop en Johan Fourie, het verlede Donderdag nader kennis gemaak met die dienste wat Bellinganhof bied.
Fourie het gesê al die inwoners wat tans in die oord se versorgingseenheid is, is sorgbehoewend.
Inwoners wat in die woonstelle by Bellinganhof woon is selfonderhoudend, en vorm 'n belangrike deel van die oord aangesien hulle by verskeie projekte betrokke is.
Suster Fourie het gesê die oord het in Februarie 'n beheerraadsverkiesing gehou en hulle het die uitnodiging aan die burgemeester as 'n belangrike stap gesien om samewerking tussen die oord en die munisipaliteit te bou. "Ons wou graag gehad het die burgemeester moet weer bewus gemaak word oor die feit dat Bellinganhof die grootste inrigting in Oudtshoorn is en dat ons 'n groot diens aan die gemeenskap lewer. 'n Groot gedeelte van ons inwoners is ook van staatspensioene afhanklik wat beteken dat ons tot 'n groot mate op hulp van buite aangewese is," het sy gesê.
Tydens die besoek het Macpherson die personeel en beheerraad van Bellinganhof gelukgewens met die uitstekende werk wat hulle verrig en veral met die wyse waarop hulle die Covid-19-pandemie hanteer het. Fourie het na afloop van die besoek gesê hulle is verheug oor die wyse waarop die burgemeester sy ondersteuning op verskillende vlakke laat blyk het. Hy het self ook voorstelle vir moontlike projekte gegee.
"Ons het die ontmoeting as baie positief ervaar en gaan hande vat om byvoorbeeld 'n kleuterskool/ouetehuis-projek te begin en dan vorentoe kyk watter ander projekte ons nog kan doen," het Fourie gesê.
Sy nooi enige instansie of lid van die publiek wat graag 'n bydrae wil maak of by Bellinganhof betrokke te raak om haar te kontak.
Bellinganhof se beheerraadverkiesing het op 23 Februarie plaasgevind.
Die verkose beheerliggaam is: Dalena Conradie (voorsitter), Godfrey Malgas (ondervoorsitter), Nerina Arling, Marita Coetzee-De Villiers, Harriet Marais en John Nicolas.
Vorige artikel: Bellinganhof nooi Burgemeester
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'