OUDTSHOORN NUUS - Daar is te kies en te keur tydens vanjaar se KKNK met iets wat elkeen se beursie én smaak sal pas wanneer die fees van 29 Maart tot 3 April in Oudtshoorn plaasvind.
Die méér kompakte fees gaan net 'n bietjie anders lyk, maar steeds met feesgangers se gunstelingaktiwiteite wat 'n paar nuwighede ingesluit.
Só byvoorbeeld word Baron van Reedestraat nie vanjaar afgesper nie, maar alle feestelikhede skuif oor na die KKNK-feesmark by die De Jager-sportkompleks in Voortrekkerweg.
Daar is nie vanjaar weekkaartjies beskikbaar nie, maar almal kan die feesgees in die KKNK-feesmark van 10:00 soggens tot 21:00 saans, teen 'n koste van slegs R50 per persoon vir 'n dagtoegangskaartjie.
Dink: gesinsvermaak, kosstalletjies, kroeë, speelplek vir die kinders, wynproe, deli-produkte, rondloop, snuisterye - alles terwyl jy na die bekende én opkomende musikante en talent op die Castle Lager-verhoog luister van 11:00 soggens tot wanneer die feesmark saans toemaak.
Die rits bekendes wat die hart- en kuiersnare, asook die voete, by die Castle Lager-verhoog, sal roer sluit in: Demi-Lee Moore, Juanita du Plessis, Karin Kortje, Robin Peters, Granville Michaels, Early B en Justin Vega, asook Ruhan du Toit - om maar 'n paar te noem!
By die kykNET-leefarea kan fees-gangers 'n oase ervaar en sommer hul gunstelingakteurs en -aanbieders ontmoet.
Vir die jonger feesgangers is daar hope kindervermaak, wat 'n pretpark in die feesmarkgebied insluit.
Daar is ook uitstekende programme wat vanjaar by Laerskool Wesbank aangebied word.
Daar is gratis aktiwiteite vanaf 10:00 tot 15:00 elke dag, met uitstaande kinder-produksies.
Van dit is gratis, en vir ander kan kaartjies gekoop word teen R75 vir kinders en R100 vir volwassenes.
Dié aktiwiteite word aangebied in samewerking met Sasko, wat ook 'n teetuin aanbied vir ouers en kinders.
Die Absa Rooiplein is 'n oase by die Absa-burgersentrum wat die Absa-kuierkamer en die Absa-kuiertuin insluit.
Verskeie opwindende ervarings word hier aangebied tussen 10:00 en 16:00 daagliks. Dít sluit die Absa-koffietafelkuiers in, aangebied deur televisieaanbieder Hannes van Wyk by die Absa-kuierkamer.
Kunsliefhebbers kan ook die kuns-gesprekke smiddae met dr. Paul Bayliss, Absa se senior spesialiskunskurator, meemaak.
Die eerste dr. David Piedt-gedenklesing vind ook in die Absa-kuierkamer plaas.
Heindrich Wyngaard bied op 1 en 2 April twee gesprekke aan as deel van die KLOP!-gespreksreeks, ondersteun deur kykNET & kie.
Vrydag gesels hy in die Absa-kuierkamer en die Saterdag sal hy by die Aurial College in Springbokweg die gesprek voortsit.
Die Netwerk24-feeskafee in die CP Nel-museum op die hoek van Baron van Reedestraat en Voortrekkerweg, is die ander heerlike uithangplek.
Hier wil jy nie die gewilde Die Burger Praat Saam Diskoers-reeks, of die KKNK se Boekstories, misloop nie.
Boeke en aandenkings, asook talle winskopies, is te vinde by die KKNK-boekeparadys.
Netwerk24 bied ook drie sakegesprekke aan met die Allan Gray Sake en Sauvignon-gespreksreeks terwyl VIA sorg vir vermaak met die Bier-uur met Beer Adriaanse.
Daar is ook ander lekker verrassings om na uit te sien met Media24-publikasies. En elke aand vanaf 21:00 speel die Netwerk24-feeskafee gasheer vir Laatnag, 'n plek waar jy kan ontspan en die dag afsluit met laatnagmusiek.
Toegang is gratis.
Die visuele kunsuitstallings by die Prince Vintcent-gebou in Baron van Reedestraat is gratis - van Dinsdag tot Saterdag elke dag van 09:00 tot 18:00.
Woon ook gratis gesprekke en rondleidings by. Elke dag om 15:00 is daar gratis kinderkunsvermaak wat kinderrondleidings en -aktiwiteite insluit.
Besoek ook die Toekomsrussaal vir die Karoo Kaarte-kunsuitstalling, rondleidings en werksessies. Kyk ook uit vir die gewilde teatergespreksreeks wat ná verskillende vertonings oor produksies plaasvind - dis 'n geleentheid om met die betrokkenes te gesels oor die produksies om meer insig oor die proses, keuses en inhoud te bekom. Al hierdie gesprekke is ook gratis.
Alles is vanjaar kontantloos - jy sleep dus net jou kaart.
Debiet- en kredietkaarte is oral by die fees by alle lokale welkom, so ook die oulike Absa/Howler-kaart.
Jy laai kontant daarop by een van die vele Absa/Howler-dienspunte op die feesterrein, dan kan jy dié kaart oral saam met jou ander kaarte gebruik. As jy egter by die kroeë 'n alkoholiese lafenis wil geniet, móét jy met jou Absa/Howlerkaart betaal.
Enige balans op jou Absa/Howler-kaart kan dadelik aan jou uitbetaal word by enige dienspunt op die feesterrein. Dis nou, as jy nog nie al jou geld bestee het op die feesheerlikhede nie ...
Die feesprogram kan ook maklik afgelaai word as 'n toepassing (app) op jou foon. Volg net die basiese instruksies op hul tuisblad.
Kaartjies is beskikbaar by Webtickets by naaste Pick n Pay, of by die KKNK-kantore in Jan van Riebeeckweg 217, Oudtshoorn.
Verblyf is beskikbaar by LekkeSlaap. Feesgangers kan ook meer inligting verkry deur op hul nuusbrief in te teken, deur die KKNK op sosiale media te volg, of kontak hulle gerus by die feeskantoor by 044 203 8600, óf stuur 'n WhatsApp-boodskap na 065 285 2337.
Die KKNK volg 'n inentingsmandaat, die bepalings en voorwaardes vir uitsluitings en alle inligting rondom die mandaat, is beskikbaar op die KKNK-webtuiste.
Die KKNK word met trots ondersteun deur, onder meer, hul hoofborg, Absa, en die stigtersborg, Media24.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'