OUDTHOORN NUUS - Karen Meiring, bekende Oudtshoorniet, het 'n gesogte Koker-toekenning ontvang vir die bevordering van Afrikaans.
Instrumenteel in die vestiging en uitbou van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) is sy geen vreemdeling in die dorp nie.
Volgens haar was haar tyd in Oudtshoorn 'n wonderlike tyd in haar lewe met 'n span wat geglo het dat alles en meer moontlik is.
"Dit was ‘n voorreg om besturende direkteur te wees van die KKNK wat van die eerste dag af, feesgangers, kunstenaars en almal betrokke, wou verryk, vermaak, versoen en verras!"
Sy is beskeie oor haar Koker-toekenning, maar het 'n boodskap vir almal wat lief is vir die Afrikaanse taal.
"Afrikaans is 'n kleurvolle, veelrassige taal wat, kultureel die mees diverse van die amptelike tale is, met meer as 54 karaktervolle variëteite. Ons het wêreldbekende en suksesvolle skrywers en kunstenaars wat in Afrikaans bly skep, vertolk en verbeeld. Jy kan trots en passievol oor jou taal en identiteit wees, maar weet ook deur passie met 'n plan kan jy die wêreld beweeg."
Meiring is ook 'n bekende gesig vir KykNET as die toonaangewende Afrikaanse kanaal in Suid-Afrika wat sy 'n groot aandeel in gehad het met die vestiging en sukses van die televisiekanaal. Sy het was ook betrokke by die ontstaan van die susterkanale, KykNet & Kie, Nou!, KykNET Lekker en FliekNet.
Sy was die leidende figuur in die skep van gewilde Afrikaanse daaglikse reekse soos Suidooster en Arendsvlei en het die Silwerskermfees, die Fiësta-toekennings in 2010 begin. As stigter en uitvoerende voorsitter van die Tribuo-fonds, word baanbrekerprojekte ter ondersteuning van kunstenaars ontwikkel.
Sedert haar uittrede by M-Net in 2021 leef sy haar toewyding tot die Afrikaanse kunste met haar eie maatskappy, KScenario. Sy dien as uitvoerende vervaardiger en besturende direkteur van Kelderfilms, wat tans die Afrikaanse daaglikse drama Kelders van Geheime vir e.tv vervaardig met 2.2 miljoen kykers per dag.
Meiring het deur die jare talle toekennings ontvang, waaronder die Prestige-toekenning van Rapport en City Press, 'n erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en kykNET se Fiësta-toekenning vir haar bydrae tot die kunste.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’