Update
OUDTSHOORN NUUS - Kobus Barnard, wat bekend was as die man op die bromponie wat met sy wit Maltese poedel, Daisy, agterop in sy eie hokkie ry, is verlede week na 'n kort siekbed oorlede.
Hy was ook bekend as 'n hardwerkende ambagsman met 'n passie vir Oudtshoorn. Hy het gereeld briewe aan koerante geskryf waarin hy staaltjies en ook lewenswyshede gedeel het.
"My pa het siek geraak en baie vinnig agteruit gegaan. Dit is vir my bitter moeilik om hom so te sien.
"Hy was voor sy dood vir bietjie meer as drie weke in die Oudtshoorn-hospitaal.
"Hy is oorspronklik opgeneem vir hoë bloeddruk en terwyl hulle besig was om dit te behandel, met onder andere bloed verdunners, het hulle vasgestel dat hy 'n maagseer ook het.
"Hulle moes die bloed verdunners dadelik stop om eers die maagseer te behandel en dinge het maar versleg," het hy gesê.
Volgens Kobus jr. is sy pa op 3 September 1940 in die Geelhoutboom-distrik naby George gebore. Hy het daar skool gegaan en grootgeword. Barnard en sy vrou was op 1 Junie 54 jaar getroud.
Barnard se lewenslus was duidelik met 'n besoek aan hom in 2014 toe die Oudtshoorn Courant berig het oor sy tuin met interessante beelde wat hy gesweis het.
Voor sy tuin in Draaistraat is 'n vliegtuig wat om 'n aardbol vlieg as die wind waai.
Hy het die beeldhouwerk jare gelede gesweis en die vliegtuig se motore is gereeld deur mossies gebruik om nes in te maak.
'n Gesweiste hond met die naam Knerses Croco Terrior het kiertsregop voor die voordeur gesit en waghou. Sy onderkaak beweeg ook as die wind waai, kompleet asof hy blaf.
Een van Barnard se groot liefdes in die lewe, behalwe vir sy vrou, Rina, was om op sy motorfiets te klim en die lang pad te vat.
Hy laat sy vrou, seun en dogter Anna-Maria Craw agter. Craw woon tans in Engeland.
Sy oudste dogter, Elsabé Pretorius is op 30 Junie 2016 na 'n drie jaar stryd teen kolonkanker oorlede.
"'n Klein samekoms vir familie en vriende wat belangstel en vir wie dit moontlik is, sal eerskomende Saterdag om 13:00 in die Outeniqua-pas gehou word.
"Ons sal my pa se as strooi op dieselfde plek waar ons Elsabé se as verlede jaar gestrooi het.
"Dit sal geskied by die tweede stilhou plek op linkerkant soos jy die Outeniqua-pas aan die anderkant af gaan," het Kobus jr. gesê.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'