OUDTSHOORN NUUS - 'n Bejaarde man van Oudtshoorn is Maandagoggend in St. Saviourstraat naby Indraf Kafee aangerand en beroof.
Volgens Theo Peet, het sy pa, George Peet (70), koopkrag by die kafee gaan koop en is hy op pad huis toe aangerand.
Theo sê die polisie by die Oudtshoorn-polisiestasie het geweier om 'n saak oop te maak.
"'n Onbekende man het glo agter my pa in die kafee gestaan en hy moes seker gesien het my pa het geld in sy beursie. Daar was egter fout met die koopkragstelsel en my pa het die geld in sy beursie terug gesit en huis toe geloop.
"Hy het gesê dat hy skielik hard op sy rug van agteraf geskop is. Die impak was so hard dat hy sy balans verloor het en geval het. Hy het sy kop op die rand van die sypaadjie gestamp."
Peet is van sy beursie met R970 kontant en al sy kaarte, sowel as die inkopies wat hy gedoen het, beroof.
"Polisiebeamptes het my pa opgetel en polisiestasie toe geneem. Hulle wou egter nie 'n saak maak nie, omdat my pa nie die persoon wat hom aangerand het kon beskryf of kon sê hoeveel mense hom aangerand het nie."
Theo sê daar is egter video-materiaal waarop daar gesien kan word watter persone dieselfde tyd as Peet in die winkel was.
"Daar was tot 'n man buite die winkel wat met my pa gesels het toe hy uitgestap het en gesien het wat gebeur het."
Volgens Theo is sy pa gister hospitaal toe.
"Hy was erg geskok en hy het sleg seergekry. Die dokter het gesê daar is swelling op sy brein en op sy niere, maar hy het medikasie gekry. Hy het vanoggend darem begin beter lyk en was meer sy ou self. My pa is vandag terug polisiestasie toe en ons hoop dat hulle hierdie keer ‘n saak sal oopmaak.”
Volgens kaptein Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, mag geen beampte weier om 'n saak te open indien daar 'n kriminele misdryf gepleeg is nie.
Teen 13:00 vanmiddag was geen saak nog oopgemaak nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'