OUDTSHOORN NUUS - Inwoners van die Groter Oudtshoorn kan hulle gereed maak om van 1 Julie 2019 sowat 13% meer te betaal vir krag nadat die dorp se begroting vir 2019/20, sowel as die finale Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) gister tydens 'n spesiale raadsvergadering goedgekeur is, met die teenstem van die ANC, Icosa, Sarco en die EFF.
Vir die meeste inwoners wat nie deernisverligting ontvang nie, styg die tarief vir water met tussen 7,6% en 12% afhangende die skaal van verbruik en die tarief vir vullisverwydering met 10,5%. Die tarief vir sanitasie styg met 6,5%.
Die begroting is volgens die burgemeester, Colan Sylvester, onder uitdagende omstandighede saamgestel met die raad se inkomste wat steeds ‘n afwaartse neiging toon.
“Die munisipaliteit se inkomste verkeer onder geweldige druk en dit het die raad geen keuse gelaat as om tariewe vir die 2019/2020 boekjaar te verhoog nie,” het Sylvester gesê.
Die begroting bestaan uit ‘n bedryfsbegroting van R688,65 miljoen en ‘n kapitaalbegroting van R89,47 miljoen
Onder die bedryfsbegroting is die besteding aan werknemers die grootste uitgawe, naamlik 40,20%, en ‘n groot poging sal aangewend moet word om die kostes te verminder sonder om dienslewering te verswak.
Net meer as R42 miljoen (R42,326 miljoen) van die kapitaalbegroting gaan aan die afdeling vir water, R13,7 miljoen vir sanitasie en R10,24 miljoen vir gemeenskapsdienste. Verder word R7,7 miljoen begroot vir sanitasie en R6,48 miljoen vir elektrisiteit.
Sylvester het beklemtoon dat die voorsiening van infrastruktuur die sleutel sal wees tot langtermyn finansiële volhoubaarheid van die munisipaliteit.
Volgens die burgemeester het die Oudtshoorn munisipaliteit goeie vordering gemaak ten opsigte van die finansiële herstelplan van byna bankrotskap tydens administrasie tot waar die munisipaliteit vandag in 'n proses is om te begin fokus op ekonomiese hulpbronne tot dienslewering.
Die finansiële posisie van die munisipaliteit het in die laaste drie jaar verbeter van ‘n kontantvloei tekort van byna R110 miljoen in Augustus 2015 tot 'n positiewe kontantvloei van R98,3 miljoen op 28 Februarie vanjaar.
Handelskrediteure het van R90 miljoen in November 2015 verminder tot die huidige R4,5 miljoen.
Verder het skuldinvordering toegeneem van 86% vroeg in 2016 tot 96% vanjaar. Dit verteenwoordig egter steeds 'n onder invordering van om en by R14 miljoen vir die huidige boekjaar.
'n Bedrag van R600 000 is volgens die burgemeester begroot vir opleidingsgeleenthede vir jongmense van Oudtshoorn.
In die bedryfsbegroting word ook voorsienig gemaak vir die subsidiëring van die sowat 7000 deernishuishoudings wat maandeliks 6kl water en 50 elektrisiteitseenhede ontvang asook 100% subsidiëring van vullisverwydering en sanitasie.
Voorsiening word ook gemaak vir 100 gratis elektriesiteitseenhede vir deernishuishoudings waar inwoners gekoppel is aan lewensondersteunings stelsels waarvoor elektrisiteit benodig word..
Henry Tyatya van die ANC het in sy teenstem van die begroting gesê dat dit nie die armes se behoeftes aanspreek nie.
Gavin Juthe van Sarco het gesê die burgemeester moet die blaam dra vir die powere gemeenskapsdeelnameproses. Volgens hom het slegs 'n duisend van die 100 000 inwoners van Oudtshoorn daaraan deelgeneem terwyl die imbizo’s ook baie swak bygewoon is. Volgens hom is dit ‘n skande en word mense op plase ook heeltemal vergeet.
Diswayne Maarman van EFF het gesê hy kan nie die begroting of GOP steun nie omdat die DA vergeet het waarvoor hulle verkies is en die dorp se infrastruktuur al swakker word. Hy het veral sy kommer uitgespreek oor die stortingsterreine in die woongebiede. Volgens hom was daar ook geen openbare deelname nie.
Vlancio Donson (Icosa) het die mening uitgespreek dat die gratis water en elektrisiteit vir deernishuishoudings onvoldoende is en verhoog behoort te word.
Klasie Windvogel (ANC) het gesê die burgemeester is 'n verskoning aan die armes verskuldig omdat hul behoeftes nie in die begroting aangespreek word nie: “Die goed wat die burgemeester sê klink net mooi.” Volgens hom word raadslede se salarisse deur die inwoners betaal maar dat almal nie geken word in die begroting nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'