OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen ‘n verkeersbeampte van die Oudtshoorn-munisipaliteit, wat van korrupsie aangekla word, is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof vir uitspraak tot 12 Maart uitgestel.
Marshall Wagenaar staan tereg op twee aanklagte van korrupsie deurdat hy glo in April 2017 onderskeidelik R2 500 en R3 500 van twee broers, Johannes en Nicholas Mulder, ontvang het vir die reël van vroeëre datums om hul swaarvoertuiglisensies te bekom.
Volgens hom het hy nie ‘n sent van Nicholas Mulder ontvang nie en het Johannes Mulder wel R6 500 aan hom oorhandig om hom te help.
Dit het egter nie gerealiseer nie en Mulder het sy geld teruggekry.
Volgens Wagenaar se regsverteenwoordiger het die staat nie ‘n saak teen hom nie.
Die rede hiervoor is die feit dat Johannes Mulder nie gevind kon word om in die saak te getuig nie en die staat op sy verklaring aan die polisie moes staatmaak.
Volgens die staatsaanklaer, Willem Vister, was Wagenaar egter nie eerlik met die hof nie. Hy het sy weergawe voortdurend aangepas.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’