OUDTSHOORN NUUS - Lede van die polisie en die Attaqua-honde-eenheid, het die afgelope maand praatjies by verskeie skole in Oudtshoorn gehou om bewusmaking onder leerders te skep oor ondermeer seksuele misdade, dwelmmisbruik en geweld teen vroue en kinders.
Volgens ao. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het ao. Dirk Greeff, 'n hondehanteerder ook met sy bloed- en semenhond, Frikkie, vir die leerders gewys hoe die hond werk.
Ao. Jacinda April het met die kinders oor seksuele misbruik gepraat en aan hulle verduidelik om die polisie te kontak as hulle ongemaklik voel in 'n situasie.
Greeff het ook met die kinders oor dwelms gepraat. Volgens hom is dwelms 'n realiteit in skole en probeer die polisie die kinders reeds van 'n jong ouderdom af leer dat dit verkeerd is en sleg vir hulle gesondheid.
Hy het ook met die kinders oor boelie gepraat omdat dit ook 'n kwessie is wat in skole hanteer moet word.
Greeff het aan die leerders verduidelik deur mekaar af te kraak en te slaan, nie die regte manier is om 'n moeilike situasie op te los nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'