CALITZDORP NUUS - 'n Man van 'n plaas tussen Calitzdorp en Ladismith, wat van plan was om tot in Bloemfontein te ryloop om sy ma in 'n siekeboeg te besoek, het baie vinniger daar gekom danksy 'n samaritaan van Calitzdorp.
Johan Barkhuizen (54) van 'n plaas naby die Huisrivierpas het Maandag 'n boodskap ontvang dat sy ma van 86 se gesondheidstoestand drasties verswak. Hy het haar twee jaar laas gesien, maar sonder vervoer was die enigste oplossing om Bloemfontein toe te ryloop.
Barkhuizen het Dinsdagoggend terwyl hy op pad was, 'n boodskap aan KFM gestuur om te hoor of iemand hom dalk 'n geleentheid kan gee.
Toe die omroeper hom terugskakel was hy net deur Calitzdorp en Gielie Basson, eienaar van Zamani Grill, het die gesprek gehoor en KFM dadelik geskakel.
Hy het Barkhuizen gevra om die kort entjie terug dorp toe te stap en solank gratis ontbyt by Zamani Grill te eet terwyl hy vir hom vervoer reël. Basson het vir Barkhuizen 'n retoerkaartjie op die bus vanaf Oudtshoorn na Bloemfontein bespreek en wou ook reël dat iemand hom tot op Oudtshoorn neem. Rodney Gelant van Oudtshoorn was toevallig in Calitzdorp en het ook die gesprek op KFM gevolg en aangebied om Johan Oudtshoorn toe te neem.
"Ek het glad nie besef ons gesprek gaan op die radio uitgesaai word nie en ek het dit nie gedoen vir publisiteit nie. Ek het net gevoel ek is in 'n posisie om iemand in nood te help en dis wat ek en my vrou, Annelize gedoen het."
Die Oudtshoorn Courant het gisteroggend telefonies met Johan Barkhuizen in Bloemfontein gesels. Hy het Woensdagoggend in Bloemfontein aangekom en bly by sy suster oor totdat hy volgende week weer op die bus klim. "Ek kan nie glo hoeveel mense aangebied het om my te help nie. Ek het by 'n vrou 'n geleentheid tot op Calitzdorp gekry, Gielie en sy gesin het so baie gereël en mense wat ek nie eens ken nie het my op Calitzdorp kom haal. Vir hulle kan ek net 'n groot dankie sê."
Volgens hom is sy ma in die siekeboeg van 'n tehuis vir bejaardes en gaan haar gesondheid agteruit. Barkhuizen is die enkelpa van twee volwasse kinders en het vir 16 jaar op Gansbaai gewoon. Hy sê werksgeleenthede op dié dorp het bitter skaars geword en hy moes dringend 'n inkomste verdien. "Ek was gelukkig en baie dankbaar om so ses weke gelede die werk op die plaas, Frikkie se Gat, te kry."
Luister hieronder na die radio-uitsending van KFM Dinsdagoggend waartydens Johan Barkhuizen om hulp gevra het en Gielie Basoon aangebied het om sy vervoerkoste te betaal.
Gielie Basson, sy vrou Annelize en hulle seun, Mîchael tydens die Bokke se oorwinning Saterdag. Foto's verskaf
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Karoo nuus'