OUDTSHOORN NUUS - Die werkloosheidskwessie in Oudtshoorn is oor die afgelope twee weke op 'n spannende wyse in die kollig geplaas met die gemeenskappe van Smartie Town en Rosebank wat op verskeie dae bande en ander voorwerpe in die pad gebrand het, en ook klippe in die pad gepak het om die vloei van verkeer te verhinder.
Inwoners van Smartie Town het op 11 en 16 Januarie hul optredes voortgesit en gekla oor hoe inwoners van ander wyke deur kontrakteurs aangestel word om werk in hul woonbuurt te verrig.
Hulle wou weet hoekom kontrakteurs, wat deur die Oudtshoorn-munisipaliteit aangestel is, nie Smartie Town-inwoners in ag neem wanneer werk uitgedeel word nie. Op beide geleenthede is die polisie ontbied om die spreekwoordelike vlamme te blus.
In die mees onlangse insident in Rosebank (wyk 6), op Maandag 22 Januarie, het inwoners die standpunt van Smartie Town-inwoners ondersteun, alhoewel die optredes in beide gemeenskappe afsonderlik van mekaar plaasgevind het.
Gemeenskapslede van Rosebank insluitend kinders, tieners, jong-mense en oumense, het die dag 'n kruising in Rosebank met klippe en brandende voorwerpe versper.
Op tye het die rook behoorlik deur die lug getrek soos wat bande en ander voorwerpe gebrand is.
Raymond Serfontein, 'n inwoner van Rosebank, het aan Oudtshoorn Courant vertel dat die gemeenskap gebuk gaan onder die feit dat daar geen werk vir hulle is nie.
"Ander kontrakteurs kry werk in ons gebied, dit werk mos nie so nie. Wat van ons mense, wat van ons matrikulante wat sonder werk sit? Die munisipale bestuurder moet antwoord hierop, hier is 'n klomp mense wat werk soek," het hy gesê. Sy standpunt is beaam deur ontstelde inwoners wat rondom hom gestaan het.
Volgens Serfontein en ander inwoners sal die beskikbaarheid van werk in hul gemeenskap verhoed dat jongmense betrokke raak by misdaad of geweld.
Polisiebeamptes en lede van die polisie-eenheid vir openbare orde (Pops) was op die toneel om die situasie te ontlont. Die gemeenskap het wel daarop aangedring dat die munisipale bestuurder hulle moet kom toespreek voordat hulle die pad sou skoonmaak volgens 'n versoek van Pops.
Lede van polisie-eenheid vir openbare orde (Pops) probeer die situasie kalmeer deur om met inwoners van Rosebank te praat. Foto's: Stefan Goosen
Munisipale terugvoer
Op navraag het Aurelia Mle, munisipale woordvoerder, gesê dat die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit die aandag van sy inwoners wil vestig op die proses van die aanstelling van kontrakteurs vir projekte in die gemeenskap.
"Hierdie kontrakteurs word deur 'n tenderproses, gewoonlik met finansiering van die provinsie, deur die munisipaliteit geselekteer. Nadat die kontrakteur aangestel is, is hy verantwoordelik vir die aanstelling van subkontrakteurs. Hierdie subkontrakteurs is dan veronderstel om plaaslike werkers in diens te neem vir die uitvoering van die projek," het sy gesê.
Mle het bygevoeg dat bogenoemde subkontrakteurs van die munisipale databasis gebruik maak om werkers aan te stel.
"Die munisipaliteit wil graag benadruk dat inwoners moet verseker dat hulle persoonlike inligting te alle tye korrek is op hierdie databasis. Byvoorbeeld, as daar 'n verandering in telefoonnommers of adres is, moet inwoners seker maak dat hierdie inligting bygewerk word op die databasis," het sy gesê.
Verder wou Mle die belangrikheid daarvan beklemtoon dat geen amptenaar of politieke ampsdraer betrokke mag wees by die seleksie van werkers vanaf die databasis nie.
"Die rol van die munisipaliteit is nie om direk werk te verskaf nie, maar eerder om te verseker dat werksgeleenthede geskep word deur projekte wat deur die staat gefinansier word."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’