OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Thembalethu in George, wat sy lyf bode van die hof gehou het, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof skuldig bevind.
Hy is ook aan bedrog en voertuigdiefstal skuldig bevind.
Roelf Paulse (60) het agt vorige veroor-delings en het in April 2019 vervalste dokumente aan 'n prokureur in Oudtshoorn verskaf waarin daar staan dat hy 'n bode van die hof is.
Hy het daarna, in Mei 2019, op 'n VW Golf beslag gelê wat hy aanvanklik aan Patrick Arendse van Oudtshoorn verkoop het.
Arendse (29) het getuig dat hy die motor in September 2013 vir R17 000 by Paulse gekoop en kort daarna vir R12 000 aan Deon Ewerts verkoop het. Die voertuig was toe nog steeds op Paulse se naam geregistreer.
Arendse het getuig dat iemand hom na Paulse verwys het en hy toe saam met Paulse na Capitec gegaan het. Hy het Paulse R7 000 kontant gegee en R10 000 na sy bankrekening oorgeplaas.
Paulse se regshulpprokureur, Wenzel Botha, het dit aan Arendse gestel dat Paulse R21 000 vir die motor wou gehad het en hy (Arendse) R15 000 as deposito betaal het.
Hulle het toe glo ooreengekom dat Paulse die eienaar van die motor sou bly totdat die balans betaal is. Volgens Arendse was daar egter nie so 'n ooreenkoms nie.
Streeklanddros Sylvia Mandla het bevind dat Paulse 'n vals dokument opgestel het met die doel om 'n ander misdryf te pleeg. Hy het moeite gedoen om uit te vind waar die voertuig was en 'n plan gemaak om dit terug te kry. Daarna het hy dit verkoop.
Paulse se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het die hof versoek om vir vonnis in ag te naam dat hy skuldig gepleit het op twee aanklagte.
Hy het wel erken dat die veroordelings wel verswarend is en die gemeenskap se belang sterk na vore kom.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, vra die hof vir direkte gevangenisstraf. Hy het geen beswaar indien die aanklagte vir vonnisdoeleindes saamgeneem word nie.
Die saak is tot 28 Februarie vir vonnisoplegging uitgestel.
Lees ook op susterskoerant, George Herald
Vorige artikel: Uitspraak van Kamma-Balju kom nog
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'