OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van ‘n man van George, wat daarvan aangekla word dat hy homself as ‘n bode van die hof voorgedoen en teregstaan op aanklagte van bedrog en voertuigdiefstal, is in die Oudtshoorn-streekhof vir uitspraak uitgestel.
Roelf Paulse (55) het na bewering in April 2019 vervalste dokumente aan 'n prokureur in Oudtshoorn verskaf, hom daarna as 'n bode van die hof voorgedoen en beslag gelê op 'n Volkswagen Golf wat hy aan Patrick Arendse van Oudtshoorn verkoop het en later aan Jeswill Michaels verkoop is.
Paulse het skuldig gepleit op die aanklag dat hy hom as balju voorgedoen het, maar onskuldig op die ander aanklagte.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, versoek die hof om Paulse op al drie aanklagte skuldig te bevind.
Hy het skuldig gepleit op die aanklag dat hy hom as balju voorgedoen het, maar onskuldig op die klagte van voertuigdiefstal.
Sy regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het betoog dat hy nie op die aanklag van diefstal skuldig bevind kan word nie omdat die voertuig steeds op sy naam was toe hy daarop beslag gelê en dit ‘n tweede keer verkoop het.
Streeklanddros Sylvia Mandla het die saak vir uitspraak tot 25 Januarie 2022 uitgestel en Paulse se borgtog tot dan verleng.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'