LADISMITH NUUS - ’n Babaseuntjie van tien dae oud is verlede Vrydag alleen en sonder toesig langs ’n boom op die sypaadjie van Dr. Watsonstraat in die Nissenville-woonbuurt deur ’n verbyganger gevind.
Dr. Watsonstraat is toevallig ook die straat waar die Kindersorg-kantore geleë is.
Die polisie is onmiddellik ontbied en het die babaseuntjie in twee kombersies toegedraai gevind. Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, is die baba na die plaaslike hospitaal geneem waar ’n mediese dokter hom ondersoek het.
Volgens die dokter skat hy die baba ongeveer tien dae oud en het hy bevind dat die baba in ’n goeie gesonde toestand is. Die seuntjie is aan maatskaplike dienste oorhandig vir plasing by pleegouers.
’n Dossier vir kinderverlating is geopen. Volgens Pojie is die vyf en dertigjarige ma gearresteer en op waarskuwing vrygelaat. Sy moet op Woensdag 26 Januarie in die plaaslike landdroshof op aanklag van kinderverlating verskyn.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'