OUDTSHOORN NUUS - Borgtog is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof geweier aan 'n man van Bridgton wat daarvan aangekla word dat hy 'n sekerheidswag by 'n taverne in Bongolethu met 'n mes dood-gesteek het.
Francois Jullies (29) word van moord op Francois 'Augi' Plaatjies (30), 'n pa van drie kinders, op 28 Mei 2023 aangekla.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, sowel as die ondersoekbeampte, ao. Piet Hendricks, het borgtog teengestaan omdat gevrees word dat Jullies staatsgetuies sal probeer beïnvloed of intimideer omdat hy almal ken.
Die woonadres wat hy aan die ondersoek-beampte verskaf het, is volgens sy suster ook nie waar hy bly nie.
Jullies het as rede vir sy aansoek aan die hof gesê dat die tronkselle, wat vir 30 mense bedoel is, oorvol is en tot 74 verhoorafwagtendes huisves.
Volgens hom is daar nie vir almal beddens nie en slaap sommige op die vloer. Hy wil ook graag kerk toe gaan.
Die organisasie Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC) het reeds met Jullies se eerste verskyning in Junie 2023 'n petisie ingedien waarin versoek word dat hy in aanhouding bly omdat hy 'n gevaar inhou vir die gemeenskap.
Streeklanddros Ntsoki Moni het bevind dat dit nie in belang van geregtigheid is om borgtog aan Jullies toe te staan nie.
Die saak is daarna na die streekhof oorgeplaas waar dit deur streeklanddros Daniel Boks vir verhoor tot 24 Februarie uitgestel is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’