OUDTSHOORN NUUS - Kliënte en ouers van APD-Oudtshoorn (The Association for People with Disabilities) het op 2 September, as deel van 'n bewusmakingsveldtog-pretstap vir Loslitdag, van Zebraweg tot by APD se werkswinkel in Bongolethu gestap.
Die opening van APD-Oudtshoorn se toegeboude werkswinkel, wat altyd net ‘n afdak was, is ook op dié dag gevier. 'n Modeparade is met trots deur die kliënte van APD aangebied om die opening te vier.
Tamzyn Boonzaaier, gemeenskapsontwikkelaar by APD, sê Loslitdag is die grootste fondsinsamelingsprojek vir mense met gestremdhede.
"Ons het baie lank gespaar om genoeg geld te kon insamel om die afdak toe te bou. Ons kliënte het altyd, winter en somer, onder die oop afdak gesit, nou is dit toegebou."
Boonzaaier het ook tydens die opening gesê dat mens altyd onbewus is van persone met gestremdhede se uitdagings totdat jy self in die posisie is waar jy hulp moet kry en jou omgewing drasties verander.
Kliënte en ouers van APD-Oudtshoorn wat deelgeneem het aan die Loslit-pretstap.
'n Vrolike oomblik word gedeel tydens die Loslitdag-pretstap.
APD-Oudtshoorn is daagliks besig om hulle kliënte met kunsprojekte besig te hou en verwelkom enige inkleurboeke, potlode, oorskiet wol en materiaal.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'