Die optog is deur die Patrick Madikane-tak van die ANC gereël. Minder as 100 ANC-ondersteuners het vanaf die industriële gebied tot by die munisipaliteit gestap waar 'n groot polisieteenwoordigheid en rolle lemmetjiesdraad gewag het.
Die lemmetjiesdraad is waarskynlik gelê om voorsorg te tref dat 'n groep ICOSA en NPP-ondersteuners wat langs die museum bymekaar gekom het nie met die ANC-optog inmeng nie. Die ICOSA en NPP-ondersteuners het plakkate geswaai waarop hulle sê dat Ronnie Lottering as munisipale bestuurder moet aanbly terwyl ANC-plakkate aangedring het dat hy verwyder moet word.
Liwa Gunguluza, voorsitter van die Patrick Madikane-tak, het 'n memorandum aan Oudtshoorn se onderburgemeester, Vlancio Donson, oorhandig nadat die memorandum hardop deur die tak se sekretaris, Jongilizwe Tyatya, voorgelees is.
Soos met die optog van die DA drie weke gelede word daar ook in die memorandum verwys na beweerde korrupsie, swak administrasie en die wanbesteding van geld. Daar word ook gevra dat die burgemeester vir president Zuma moet vra om 'n ondersoek te doen na beweringe oor ongerymdhede by die munisipaliteit.
Soos met die DA-optog was daar ook 'n onderbreking toe 'n liedjie en teen-argumente vanuit die munisipale kantore oor groot luidsprekers uitgesaai is.
Gunguluza het die speaker en die onderburgemeester op die trappe voor de munisipaliteit gevra dat die musiek afgeskakel moet word voordat die memorandum oorhandig word en daar is aan hulle versoek gehoor gegee.
Dieselfde liedjie wat tydens die DA se optog oor die luidsprekers gespeel is, is egter na die oorhandiging tot groot ontsteltenis van 'n groepie ANC-ondersteuners weer gespeel. Die optog is sonder voorval en vreedsaam uitmekaar.
Die streekvoorsitter van die ANC, Putco Mapitiza, het by navraag gesê dat Maandag se optog slegs deur die spesifieke tak gereël is en niks met die streek of provinsie se ANC-strukture of optredes te doen het nie.
Op sy beurt het Gunguluza bevestig dat sy tak die inisiatief geneem het en die optog self gefinansier het.
Hy het gesê dat hulle reeds met vier ander take in gesprek is en dat daar beslis 'n groter optrede wag indien die burgemeester nie binne die gevraagde sewe dae reageer nie. Hy was ook ongelukkig oor die luidsprekeronderbrekings tydens hulle optog. Volgens hom is daar tydens 'n vergadering tussen sy tak, die munisipaliteit en die polisie die versekering gegee dat die optog nie ontwrig al word nie.
In 'n verklaring van die waarnemende munisipale bestuurder, Ronnie Lottering, word gesê dat die ontvangs van die memorandum erken word en dat dit bestudeer sal word. In die verklaring word daarop gewys dat die munisipaliteit goeie diens lewer ten opsigte van basiese dienste, die voorsiening van behuising en die herstel van strate.
Dit was van die kwessies wat in die ANC-tak se memorandum aangeraak is. Daar word onder andere genoem dat meer as 5 000 huisgesinne deernishulp ontvang, dat 70% van slaggate reeds herstel is en dat daar tans voorbereidings getref word vir die oprigting van 800 huise in Rose Valley.
Onbekende persone het op twee plek-ke buite Oudtshoorn op pad na De Rust en George bande aan die brand gesteek.
Gunguluza het gesê dat dit be-slis nie van sy tak se 139 lede was wat daarby betrokke was nie en dat hy nie oor die rede vir die bande en wie verantwoordelik is wil spekuleer nie.

Terwyl die ANC-optog in die dorp aan die gang was het onbekende persone bande op die twee toegangsroetes na Oudtshoorn gebrand.

Die groep ANC-ondersteuners het vreedsaam voor die munispaliteit byeengekom terwyl 'n ewe-groot groep ICOSA en NPP-ondersteuners agter 'n rol lemmetjisdraad betoog dat Lottering as munisipale bestuurder moet aanbly. Foto: Liezl van Niekerk
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'