Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - ‘n Besluit om die Junie-maandelikse raadsvergadering om sekerheidsredes by ‘n privaatvenue, buite Oudtshoorn te hou, het op ‘n slegte noot begin toe die ANC en Icosa uit die vergadering gestap het.
Die speaker, Julia le Roux Krowitz, het vanoggend, Vrydag 29 Junie om 10:00, die vergadering geopen. Na gebed het die ANC-raadslid, Klasie Windvogel teenoor die speaker gekla dat die publiek by die ingang van die perseel toegang geweier word.
Nondumiso Magopene, die plaaslike ANC-hoofsweep, het aan Le Roux Krowitz gesê, “Ons mense staan daar buite, hulle word toegang geweier deur die eienaar.”
Sy het gedreig om die ses ANC-raadslede en een Icosa-raadslid uit die vergadering te lei.
Die munisipale bestuurder, Allen Paulse, het aan Magopene gesê, “die eienaar is nie tevrede met die mense by die hek se gedrag nie.”Hy het die volste reg om sy besigheid en gaste te beskerm en die plek te sluit.” Paulse het aangevoer dat daar voorsiening gemaak is vir 10 lede van die publiek om die vergadering by te woon.
Die verduideliking was nie aanvaarbaar vir die oposisie nie en hulle het die vergadering verlaat.
Le Roux Krowitz het met 14 DA-raadslede oor, gesê, “ek is baie teleurgesteld in die ANC en Icosa se gedrag.”
Met al die DA-raadslede teenwoordig, was die vergadering ‘n kworum en is die agenda afgehandel. Items op die agenda was onder andere, die opgradering van die toetsterrein vir voertuie, behuising, rioolwerke en munispale tariewe.
Kyk 'n video hieronder.
Lees 'n verwante artikel: Gemoedere vlam oor raadsvergadering
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'