OUDTSHOORN NUUS - "Ek het nog baie moed, maar nie meer die spoed."
So sê Ampie Lewis, die langsdienende werker by die Attaqua-honde-eenheid in Oudtshoorn, wat aan die einde van die maand, na 35 jaar as algemene werker, amptelik aftree.
Oom Ampie, soos hy geliefd onder beamptes by die honde-eenheid bekend is, was een van die eerste persone wat by die honde-eenheid begin werk het toe die eenheid in Oudtshoorn gestig is.
"Ek het in die 35 jaar onder drie bevelvoerders gewerk. Die eerste was kaptein Nico Geldenhuys. Ek het eers op plase in die omgewing gewerk en toe doen ek aansoek toe hulle die honde-eenheid oopmaak en hy het my aangestel."
Volgens Oom Ampie was die honde-eenheid se kantore aanvanklik by die dorp se polisiestasie in Baron van Reedestraat en het die honde by die Bridgton-polisiestasie gestaan.
"Ek het in die oggende van die plaas af in dorp toe geloop. Dan gaan haal ek die kos by die stasie en dan loop ek na die honde se kennels toe in Bridgton en voer hulle en spuit die hokke skoon."
Kolonel Chris Botes was die volgende bevelvoerder saam met wie hy gewerk het.
"Kolonel Botes is soos my broer en my maat. Dit is in sy tyd as bevelvoerder wat die eenheid na die grondpad geskuif het. Toe ons trek was daar net veld. Ek en hy en 'n paar bandiete het die bossies uitgetrek en met pikke gekap dat ons die kennels en kantore op die grond kon oprig. Ek en hy het snags as dit donker is nog gewerk om die grond werkbaar te kry. Ek en hy het flippen hard saam gewerk. Ander werkers het nie hier gehou nie oor die arbeid te hard was, so dit was maar altyd ek en die kolonel."
Oom Ampie vertel van die passie wat hy vir sy werk het.
"Die kamp waarin die honde nou staan is na my vernoem. Lewis Avenue. Dit was my werk om seker te maak dat niemand van buite die eenheid onnodig daar ingaan nie. Hulle moes eers aanmeld by die kantoor. As die honde iemand byt sou dit my verantwoordelikheid wees. Ek was baie streng. Ek het self na die honde omgesien en hulle hokke skoongespuit en omdat ek so lief is vir my werk het hulle die kamp na my vernoem," vertel hy trots. Oom Ampie sê dat sy kennis van honde amper net so goed is soos die hondehanteerders s'n.
"Ek het jare saam met hulle die honde geoefen. Toe ek jonger en sterker was het ek in die bytpakke gestaan dat die honde kan oefen.
Die manne het sommer die honde twee-twee op 'n slag gestuur, maar hulle kon my nooit plat kry nie."
Oom Ampie sê hy is ook nog nooit by die werk deur 'n hond gebyt nie.
"Dit is seker omdat ek nie vir hulle wys ek is bang vir hulle nie," skerts hy.
Luitenant kolonel Retha Louw, nuwe bevelvoerder van die honde-eenheid, sê sy weet nie wat hulle by die eenheid sonder hom gaan doen nie.
"Ons gee nie vir Oom Ampie opdragte nie. Hy weet wanneer die kantore skoongemaak moet word en wanneer die gras gesny moet word. Hy kom in en doen sy werk met ongelooflike passie en volharding. Hy weet waar als is en ken elke hoekie en draaitjie. Hy sal gemis word."
Oom Ampie sê hy sal sekerlik van tyd tot tyd nog 'n oog by die eenheid kom gooi om seker te maak sy opvolger is net so goed soos hy.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'