OUDTSHOORN NUUS - Die burgemeester van Oudtshoorn, Johan Allers, het Dinsdag in 'n e-pos aan die koerant laat weet dat hy enige ondersoek teen hom verwelkom en selfs daarop aandring dat 'n tugverhoor gehou word.
Dit volg nadat verskeie klagtes die afgelope week by die Independent Municipal and Allied Trade Union (IMATU) teen hom ingedien is.
Die klagtes, wat in die koerant se besit is, het onder meer betrekking op beweerde inmenging in munisipale werksaamhede en operasionele kwessies, asook sy hantering van personeel. Daar is ook klagtes rakende sy kantoorpersoneel.
Aangesien die ondersoek steeds aan die gang is, het die koerant besluit om nie verdere besonderhede oor die klagtes te publiseer voordat die ondersoek afgehandel is nie.
Volgens Christo Vermaak, waarnemende woordvoerder van die burgemeester, is Allers skriftelik deur die speaker, Suzane Jansen, in kennis gestel van klagtes wat beweerde inmenging in die administrasie van die munisipaliteit betref.
Hy het bygevoeg dat die aangeleentheid nog nie formeel aan die raad voorgelê is nie en geen besluit tot op hede geneem is ten opsigte van enige moontlike tugstappe of ondersoek nie. Gevolglik word die saak as sub judice geag en wou sy kantoor nie kommentaar lewer oor die inhoud van die klagtes nie.
Konteks en perspektief
Allers het wél gesê dat hy graag die geleentheid wil gebruik om "konteks en perspektief tot die geleentheid te bied".
Volgens hom verwelkom hy enige ondersoek en dring selfs aan dat 'n tugverhoor moet plaasvind.
"Dit is die regte platform waar alle betrokke partye, insluitend klaers en getuies, hul saak openlik kan stel en aan behoorlike kruisverhoor onderwerp kan word. Ek glo dat aanspreeklikheid in beide rigtings moet geskied, nie net van die politieke leierskap nie, maar ook van die administrasie."
Hy stel dit duidelik dat hy nie een van "daardie uitvoerende burgemeesters wil wees wat uit vrees vir konflik of teenkanting, versuim om op te tree nie".
"Ons land het reeds te veel leiers wat nie hul werk doen nie, ek is nie bereid om in daardie kategorie te val nie," het hy gesê.
Volgens hom het hy grondwetlike én wetlike verantwoordelikhede om toesig te hou oor dienslewering en die munisipale administrasie.
"Gegewe die geskiedenis dat die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit voorheen al onder administrasie geplaas is, beskou ek dit as my plig en verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap om te voorkom dat só 'n agteruitgang weer plaasvind."
Allers het bygevoeg dat hy van mening is dat, indien daar wel 'n klagteproses is, dit nie deur anonieme kanale die media moet bereik nie, omdat dit onderliggende agendas suggereer.
Hy bevestig dat alle handelinge vanuit sy kantoor binne die perke van sy statutêre uitvoerende mandaat plaasgevind het.
Volgens hom was sy optrede dié van die hoof van die uitvoerende arm van die munisipaliteit, nie van 'n gewone raadslid nie.
Hy het verder gesê die wet verleen aan die uitvoerende burgemeester die uitvoerende gesag en verantwoordelikheid om onder meer diensprioriteite te identifiseer, strategieë aan die raad aan te beveel en die bestuur van die administrasie te monitor. Hy het ook genoem dat gewone raadslede volgens wet nie by administrasie mag inmeng nie.
"Dit is egter belangrik om te onderskei dat die uitvoerende burgemeester nié 'n gewone raadslid is nie. Hy dra statutêre verantwoordelikhede wat nie net administratiewe interaksie regverdig nie, maar dit noodsaak en wetlik vereis."
Volgens hom bly hy onwrikbaar verbind tot die diens van die inwoners. Dr. Corné Mulder, leier van die Vryheidsfront, het gesê hy berus by Allers se verklaring.
Elsje Meyer, verteenwoordiger van IMATU, het by navraag gesê die kwessie is intern en konfidensieel en wou geen verdere kommentaar lewer nie.
'n Navraag is ook aan die speaker gerig, maar sy het nie daarop reageer nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’