OUDTSHOORN NUUS - Motoriste sal beaam dat die vyf stilhouplekke met ablusiegeriewe in Meiringspoort pynlik netjies onderhou word. Dit is ook die geval met die tweede-laaste een aan Klaarstroom se kant, wat die afgelope sewe maande deur Louw Campher en Sheroleze Links beman word, maar met 'n verskil.
Behalwe dat hulle die terrein en ablusie-geriewe netjies hou, is die badkamers vol gedagtes en skryfstukke. Oral in die vertrek pryk pennevrugte van Louw teen die mure.
Van 'n bladsy aan boere opgedra om hulle te bedank vir hulle harde werk onder moeilike omstandighede, tot raad aan mans hoe om vroue weer soos dames te behandel. Tussenin is Bybelverse, toegelig met Louw se eie gedagtes en op die oppervlak langs die wasbak is WELKOM netjies met klippies tussen vetplante uitgepak.
Louw sê skryf is sy passie. "Ek skryf elke dag iets en ek is veral lief daarvoor om liedjies te skryf," verduidelik hy waar hy en Sheroleze trots voor hulle gebou staan.
Sheroleze sê hulle kom al twee van Dysselsdorp af waar die kontrakteur werkers soggens oplaai vir die dag se skof. "Ons werk elke dag tot vyfuur en dis vir my lekker as mense hier stop en ons sien hulle is tevrede met ons plek."
Op die vraag of sy ook, soos Louw, gedagtes wil neerskryf en teen die mure plak, lag sy net. "Nee, wat ek los maar die skrywery vir hom, hy doen dit baie goed."
'n Privaat kontrakteur is verantwoordelik vir die dag-tot-dag onderhoud en skoonmaak van Meiringspoort en die stilhouplekke wat maandeliks deur duisende mense gebruik word. Die kontrakteur se werkers is ook gewoonlik eerste by botsingstonele in die poort om motoriste met rooi vlae en tydelike verkeerstekens te waarsku.
Toe Louw en Sheroleze verlede week besoek is, was dit juis toe die Oudtshoorn Courant 'n toneel besoek het waar 'n vragmotor omgeslaan het.
Een van Louw Campher se briefies wat oral in die ablusieblok verskyn.
Louw Campher by sy verwelkomingsboodskap. Foto's: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'