OUDTSHOORN NUUS - Aubrey (57) en Hilda (57) Scheepers van Dysselsdorp is in Februarie deur Cell C as die gelukkige wenners van 'n splinternuwe Toyota Corolla Quest aangewys, en het Saterdag die sleutels ontvang.
Aubrey vertel dat hy al vir baie jare 'n getroue kliënt van Cell C is en dat hy soms lugtyd aankoop om aan die Spin and win-kompetisies te kan deelneem.
"Soms is ek gelukkig dan wen ek lugtyd, maar die keer was my naam in die gelukstrekking vir die Toyota Corolla Quest. Hilda kla soms as ek lugtyd aankoop, maar ek dink nie sy is nou meer ongelukkig daaroor nie," terg Aubrey.
Deseré Schoeman, Cell C se streekbestuurder, sê dat almal 'n kans staan om te wen wanneer hulle lugtyd aankoop en aan die Spin and win-kompetisie deelneem.
"Wanneer lugtyd aangekoop word, ontvang die kliënt 'n SMS vanaf Cell C met 'n skakel wat oopgemaak moet word om te kan deelneem.
"Aubrey het aan die Cell C se Summer Campaign's Spin and Win-kompetisie deelgeneem en het hulle naam in die gelukstrekking vir die voertuig gekom."
Schoeman sê dat Cell C se leuse nie verniet "change your world" is nie, "hierdie nuwe voertuig gaan definitief Aubrey en Hilda se lewens verander aangesien hulle glad nie 'n voertuig besit het nie".
Hilda en Aubrey Scheepers is nou die trotse eienaars van 'n splinternuwe voertuig.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'