OUDTSHOORN NUUS - Dit is nie aldag dat jy hoor iemand vier sy 90ste verjaarsdag nie. Wynand Cornelious Breytenbach, beter bekend as Wynie, het op Saterdag by Kleinplaas-vakansieoord, die groot dag saam met 85 vriende en familie-lede, gevier.
Hy is op 1 Oktober 1932 in Ladysmith, Natal gebore. In 1942 trek sy gesin Klein-Karoo toe en in 1949 voltooi hy sy matriek aan die Hoër Seunskool (nou die CP Nel-museum).
Wynie het van 1962 tot 1992 by Hoër Tegniese Skool Oudtshoorn (nou Langenhoven Gimnasium), klas gegee. Dis ook hier waar hy sy vrou, Pikkie (78), ontmoet het.
Hulle is kort na die ontmoeting getroud en het saam drie kinders, Dalena Spies, Heloise Breytenbach-Uys en Werner Breytenbach, in Oudtshoorn grootgemaak. Wynie en Pikkie het op 26 Junie hulle 57 ste huweliksherdenking gevier.
Volgens sy kinders is hy mal oor sy gesin, sy tablet, formule-1 motorsport, Ferrari's, Die Burger en sport.
"My pa is baie saggeaard en nederig," vertel Heloise en wanneer jy noem dat haar pa baie goed lyk vir 90 jaar oud, sê sy dat hy baie gesond lewe en aan die gang bly.
Wynie en sy vrou, Pikkie Breytenbach, is al vir 57 jaar getroud.
Die koek kom al die pad van Somerset Wes af, in segmente en is weer hier saamgevoeg. Die koek simboliseer alles waarvan Wynie hou.
Die uitgebreide Breytenbach-gesin. Drie kinders, twee dogters en 'n seun en sewe kleinkinders. Foto's: Sonia Wahl
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'