OUDTSHOORN NUUS - 'n 22-jarige man van Oudtshoorn, wat op parool was toe hy 'n soldaat van sy selfoon en ander besittings beroof het, is Vrydag in Oudtshoorn tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis.
Hy is skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede.
Rodicus John en 'n onbekende persoon wat nie voor die hof gebring is nie, het die soldaat helder oordag in 'n stil straat naby die Infanterieskool voorgekeer en gevra om sy selfoon te gebruik. Tydens 'n struweling wat gevolg het is 'n mes uitgehaal en die soldaat is in sy hand gesteek,
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het vir 'n vonnis van ten minste sewe jaar tronkstraf gevra omdat Rodicus nie 'n eerste oortreder is nie en hy nie kanse om te rehabiliteer aangegryp het nie. Hy toon ook geen berou nie.
"Die beskuldigde was ten tyde van die insident op parool en op 'n plek waar hy nie moes gewees het nie. Hy het daarom net homself te blameer vir die bootjie waarin hy tans is,"
John se regshulpprokureur, Eugene Roos, het toegegee dat hy aan 'n ernstige misdryf skuldig bevind is, en gesien in die lig van sy vorige veroordelings hy nie weet waar hy sal opeindig nie.
Hy het egter die hof versoek om John se jeugdigheid vir vonnisoplegging in aanmerking te neem.
Streeklanddros Retha Pretorius het bevind dat John en sy maat beplan het om die klaer te beroof. Hy was 'n swak getuie en dit is duidelik dat hy nie sy regsverteenwoordiger oor alles ingelig het nie.
Die gebruik van 'n mes het eers tydens die verhoor aan die lig gekom.
John is tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis en onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'