OUDTSHOORN NUUS - Die besoek van prof. Chris Barnard, tien maande na sy eerste hartoorplanting, is 'n groot gebeurtenis; die dra van mini's en swem op Sondae is 'n netelige kwessie. Gerugte oor die sluiting van die Onderwysopleidingskollege skep spanning; 12 onderwysstudente wys hulle staal met 'n perderitmarathon.
18 September 1968
Op die voorblad word aangekondig dat prof. Chris Barnard en sy vrou op uitnodiging van die plaaslike Tafelronde die eregaste op Oudtshoorn se Lentebal op Saterdag sal wees. Die opbrengs van die bal sal vir mediese navorsing geskenk word.
Die Queen's Hotel het die lokaal vir die bal gratis aangebied.
Berigte in die Oudtshoorn Courant om die Onderwysopleidingkollege te omskep in 'n Militêre Kollege en die oprigting van 'n Universiteitskollege krap die Onderwysowerhede op die dorp om. Hierdie nuus is gepubliseer sonder dat hulle daaroor ingelig en geraadpleeg is. Hulle distansieer hulle daarvan en beskou dit as 'n vertrouensbreuk. Sulke berigte is ook die rede vir die daling in inskrywings by die Onderwysopleidingskollege.
21 September 1968
'n Skare van 300 mense het prof. Barnard en sy vrou by die George-lughawe ingewag. Die Onderwysstudente het 'n erewag gevorm. Oudtshoorn se burgemeesterspaar en die voorsitter van die Tafelronde, Gerald Brink en sy vrou het hulle verwelkom. By die Burgersentrum het prof. Chris Barnard die kollegestudente toegespreek.
Die dra van mini's na-ure en naweke moet kortgevat word, is die mening van die Skoolraad. Die twee hoërskole gehoorsaam die reël van 4 duim bo die grond, wat gemeet word as die dogter in 'n knielende posisie staan. Skoolhoofde moet die gevaar van kort rokkies dra aan die dogters oordra. Die probleem is egter na-ure en naweke en hiervoor moet die ouers instaan...
28 September 1968
'n Kwessie wat die dorp verlede jaar verdeel het, het weer opgevlam. Die Afrikaanse Kerke is gekant teen 'n swemmery op Sondae. Die Stadsraad moet nou standpunt inneem Die teenstanders voel dit is verregaande om swem in 'n somer op 'n Karoodorp te verbied.
Twaalf baie dapper onderwysstudente gaan 'n 200 myl lange perderit onderneem. Hulle gaan elke dag ongeveer 30 myl aflê. Die rit begin en eindig in Calitzdorp. Hulle sal via Amalienstein deur Seweweekspoort, Bosluiskloof, Prins Albert, De Rust en dan al langs die voet van die Swartberge terugkom Calitzdorp toe.
Die perderit gaan hulle deursettingsvermoë en aanpasbaarheid toets.
'Ons bring jou die nuutste OUdtshoorn, Klein Karoo nuus'