OUDTSHOORN NUUS - 'n 40-jarige man is verlede Vrydag by die taxistaanplek agter Spar met 'n mes doodgesteek.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is twee verdagtes danksy die vinnige optrede van die Eden-gebiedsmisdaadvoorkomingspan en die blitspatrollie vasgetrek.
"Die lede is gekontak na 'n bakleiery by die taxistaanplek uitgebreek het. Met hul aankoms op die toneel het hulle die liggaam van Marshall Davids met 'n steekwond in sy nek aangetref.
Die lede het ook 'n Okapi-mes en 'n bloedbevlekte top op die toneel gevind. Twee mans, onderskeidelik 40 en 50 jaar oud is vir moord in hegtenis geneem en sal Maandag in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn."
Volgens Pojie was die twee verdagtes deel van 190 arrestasies wat sedert verlede Donderdag tot Sondagoggend gemaak is om misdaad aan die Tuinroete te bekamp.
"Die arrestasies is vir verskeie kriminele klagtes gemaak."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'