OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-polisie het Maandag vier persone in drie afsonderlike voorvalle vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom in hegtenis geneem.
Volgens ao. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, was die een voorval in Oranjestraat.
"Die polisie het 'n persoon met koper stukke ter waarde van R300 in sy besit gevind. Die volgende voorval was in Rademeyerstraat waar 'n 26-jarige man met koperpype in sy besit gevind is en 'n derde persoon is in Dassieweg ook met koper in sy besit gevind."
Micheals sê 'n vierde persoon, 'n 28-jarige man, is in Derdelaan, Rocky Hill, in hegtenis geneem na polisielede wat op patrollie was 'n man met ysterpype in sy besit gevang het.
Indien enigiemand inligting het oor die voorvalle of waar die vermoedelike gesteelde eiendom vandaan kom kan hulle die Oudtshoorn-speurders by 082 302 4395 of die kantoor by 044 203 9127 skakel.
Alle inligting word vertroulik hanteer.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'