OUDTSHOORN NUUS - Drie jong mans van Beaufort-Wes, wat vir langer as twee jaar in aanhouding was op 'n aanklag van poging tot moord, is verlede Woensdag in die Oudtshoorn-streekhof opgeskorte vonnisse opgelê nadat hulle slegs aan aanranding skuldig bevind is.
In sy laaste hofsaak voor sy dood het streeklanddros Mark van Wyngaardt bevind dat die drie beskuldigdes, Clarense Esau (21), Llewellen Renier (22) en Grandville Murrauy (19) nie gepoog het om enigeen dood te maak nie en ook nie 'n gemeenskaplike oogmerk gehad het nie.
Hulle is daarvan aangekla dat hulle klippe na die woning van Katrina Smit gegooi het terwyl sy en ander familielede rondom 'n vuur buite die huis gesit het.
Esau het erken dat hy 'n vuurwapen by hom gehad het, maar dit is later bevind dat dit nie gewerk het nie.
Die landdros het vir vonnisoplegging die drie se tydperk in aanhouding in aanmerking geneem asook die feit dat hulle nog jonk is.
Volgens hom dui getuienis voor die hof op moontlike bendebedrywighede.
"Ek was ongelukkig lank siek en het nie geweet wat gaan gebeur nie.
"Die onsekerheid was ook klaar 'n straf."
Hulle is elk ses maande gevangenisstraf opgelê wat voorwaardelik in geheel vir vyf jaar opgeskort is, en ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'