Gallery
OUDTSHOORN NUUS - "Skud solank julle vere reg. Oudtshoorn is reg vir julle. Vanjaar se fees gaan die moeder van alle feeste wees!"
So het Oudtshoorn se eerste burger, Chris Macpherson, verlede Vrydag by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees se programbekendstelling by Surval Boutique Olive Estate, triomfantlik gesê.
FOTOGALERY: Vanjaar se 27ste KKNK
Dié programbekendstelling, is vooraf-gegaan met 'n heerlike ligte ete terwyl yskoue drankies op die lowergroen grasperk bedien is. Sagte orkesmusiek het in die agtergrond gespeel en die geleentheid is bygewoon deur verskeie hooggeplaastes, politici en kunstenaars.
Vanjaar se 27ste KKNK word vanaf 1 tot 9 April in Oudtshoorn aangebied met Absa wat die hoofborg is. Die feesdatums val in die skoolvakansie en sluit Paasnaweek in. Feesgangers by dié familiefees kan uitsien na meer as 30 debuutwerke en ook 'n keur van die beste produksies van die afgelope jaar by ander feeste en teaters.
Crispin Sonn, voorsitter van Kunste Onbeperk, het die verwelkomings gedoen terwyl die musikant Frazer Barry, die seremoniemeester was. Barry het gereeld die gehoor laat skaterlag met sy kwinkslae en het later die aand ook 'n indrukwekkende liedjie, Dans in die reën gesing. Tesame met Tiffany Saterdaght en Schalk Joubert was die gehoor se aptyt vir kwaliteit musikale vermaak deeglik gevul.
Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK Theart het beloof dat vanjaar se fees 'n mengelmoes van artistieke geure sal wees om te verseker dat daar vir almal iets sal wees om te identifiseer ongeag jou agtergrond of denkwyse.
"By die fees gaan jy iemand heeltemal anders as jy ontmoet, en julle gaan begin praat, en dalk gaan julle aanvanklik begin baklei, maar uiteindelik gaan julle hier wegstap met 'n beter begrip van wie ander mense is; en dit is hoe ons nasie bou."
Theart het ook bevestig dat Baron van Rheedestraat weer soos van ouds die fees se hartklop sal wees.
Die Oudtshoorn-sakekamer se voorsitter, Abrie Ferreira (links) en vriende posseer vir 'n foto.
"Dit sal verseker dat die gewone man op straat ook kuns kan ervaar en blootstelling kry van nuwe genres van dans of musiek. Ons het ook weer die Absa-burgersentrum wat een van ons hoofvenues sal wees waar kykNET verskeie aktiwiteite sal doen.
Die Netwerk24 fees-kafee sal agter die CP Nel-museum wees en ook die feesmark wat in Voortrekkerweg sal wees. Gedurende die fees sal musiek deurgaans by die Castle-musiekverhoog gespeel word. Die RSG-verhoog skuif ook tot daar wat lewendige uitsendings sal insluit.
Fantastiese nuus is dat die groot opelugkonserte ook weer teruggebring word en by Hoërskool Oudtshoorn sal plaasvind. Alles is lekker stapafstand van mekaar."
Volgens Theart sal vyf individue vereer word vir hulle bydrae tot die KKNK en die kunste:
Dawid Minnaar ontvang die KKNK-prys vir Vertolking;
Early B word vereer met die KKNK Kruispunt-prys;
Refentse Morake ontvang die KKNK-prys vir Jong Stem en Liza Grobler is die Feeskunstenaar.
Magdaleen Krüger ontvang die KKNK-prys vir Lewensbydrae.
MIndi Breunissen (links) en haar sussie Rinli Tepper.
Absa verleng KKNK-borgskap met drie jaar
Shedrick Rooi, area-segmenthoof van Absa, het in sy spreekbeurt onder luide toejuiging aangekondig dat Absa hul borgskap met 'n verdere drie jaar verleng word.
"By Absa glo ons dat ons 'n rol moet speel in ons nasie se vooruitgang. Die kombinasie van ons omvang, reikafstand en teenwoordigheid in die land, gee ons die geleentheid om betekenisvol by te dra tot die bevordering van plaaslike en internasionale talent. Ons het steeds 'n gevestigde langtermynbelang om entrepreneurs en plaaslike besighede te steun, en stel die vennootskap wat ons die afgelope 21 jaar met die KKNK het, hoog op prys. Teen hierdie agtergrond, kondig ons die hernuwing van ons vennootskap, en borgskap van die KKNK, vir nóg drie jaar aan. Dit is vir Absa meer as net 'n borgskap. Dit is een van die maniere waarop ons help om moontlikhede 'n werklikheid te maak deur ons rol as 'n toonaangewende bevorderaar van die uitdrukking van kuns en kultuur wat oor ons diverse gemeenskappe strek. Die verlenging van ons vennootskap met die KKNK stel Absa in staat om steeds 'n betekenisvolle impak op die Oudtshoorn-gemeenskap en die kunsbedryf as geheel te maak. Ons is trots op ons bydrae om die KKNK oor die jare te versterk en sien daarna uit om in die toekoms saam met die KKNK-direksie, -bestuurspan en ander borge te werk."
Rooi het ook beklemtoon dat dit steeds Absa se ambisie is om tot die ekonomiese ontwikkeling van die Wes-Kaap by te dra om sodoende 'n platform te verstewig sodat kuns en kultuur kan floreer en klein en groot besighede 'n geleentheid te gee om deur die kunste, verwesenlik te word.
"Absa is gesteld daarop om Suid-Afrika se lewendige kunssektor te steun en innoverende maniere te kry om die gemeenskappe waarin ons leef en werk, te steun. Ons bly verbind tot ons strategiese doelwit om 'n goeie verskil te maak in alles wat ons doen en ons is dus trots op ons langdurige verhouding met die beroemde KKNK," het Rooi gesê.
Absa Rooiplein
Rooi het gesê dat Absa daarna uitsien om kliënte by Absa se gasvryheidsarea, bekend as die Absa Rooiplein, by die feesterrein te verwelkom. Die lokaal sal vele opwindende ervarings vir feesgangers insluit en sal die perfekte plek wees waar feesgangers in 'n ontspanne omgewing met mekaar kan skouers skuur.
"Absa sal ook as deel van ons pogings om kuns en kultuur in ons land te steun, 'n versameling kunswerke van hul korporatiewe versameling, 'n versameling wat selde gesien word, by die Absa-tak uitstal. Daar sal ook 'n diverse versameling kunswerke van jong beeldende kunstenaars regoor Afrika in die Prins Vincent gebou ten toon gestel word," het Rooi gesê.
Feesprogram en kaartjieverkope
Die volledige feesprogram is reeds vanaf Dinsdag 24 Januarie op die KKNK se webblad beskikbaar.
Kaartjieverkope vir Vriende van die KKNK open op Maandag 30 Januarie en Woensdag 1 Februarie vir die publiek. Kaartjies is aanlyn beskikbaar by Webtickets, of jou naaste Pick n Pay. Vir meer inligting, besoek die KKNK se webblad by www.kknk.co.za of kontak die kantoor per e-pos by info@kknk.co.za, stuur 'n WhatsApp na 065 285 2337 of skakel 044 203 8600.
Chè Piedt (links), dogter van oorlede David Piedt en haar ma, Marjorie Piedt was ook teenwoordig.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Karoo nuus'