Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Munisipaliteit het Woensdag by Brian's Grill die top leerders van 2018 met sertifikate vereer vir hul prestasies.
Leerders van onder meer Hoërskool De Rust, Dysselsdorp Sekondêr, Bridgton Sekondêr, Aurial Kollege, Oudtshoorn Vaardigheidskool en Fezekile Sekondêr het die geleentheid bygewoon.
Volgens Colan Sylvester, uitvoerende burgermeester van Oudtshoorn, is hierdie gebaar die munisipalitiet se beskeie manier om aan dié matrikulante erkenning te gee vir hul harde werk.
In sy toespraak het hy ook verwys na die kritieke rol wat die ouers, onderwysers en die departement van onderwys gespeel het in hul sukses.
"Hulle is voorwaar die onbesonge helde wat agter die skerms die leerders gemotiveer het om hul allerbeste te lewer binne hul vermoëns.
Sylvester het klem daarop gelê dat alhoewel die leerders nou hul skoolloopbaan voltooi het, dit nie beteken dat hulle nou op hul louere moet rus nie.
"Ek wil graag 'n beroep op die leerders doen om 'n gebalanseerde lewe te lei."
"Die onus berus van nou af op julle self om verantwoordelikheid te neem vir julle eie sukses," het hy gesê.
Trotse ouers, onderwysers en munisipale amptenare saam met die top leerders van 2018.'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'