OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Oudtshoorn, wat sy tweejarige kind so erg aangerand het dat die kind verskeie operasies moes ondergaan, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof vir 10 jaar tronk toe gestuur vir poging tot moord.
Die kind se ma is aan kinderverwaarlosing skuldig bevind en is 'n vonnis van vyf jaar opgelê.
Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het die hof versoek om die ouers vir lank tronk toe te stuur omdat enige ander vonnis onvanpas vir die gruwelike misdade sal wees. Die feit dat die twee skuldig gepleit het word nie gesien as enige vorm van berou nie, omdat hulle geen ander keuse gehad het nie.
Dit is een van die ernstigste aanrandings en die dokter het getuig dat die beserings lewensgevaarlik was.
Streeklanddros Daniel Boks, het met vonnisoplegging die pa se optrede teenoor sy eie kind as verfoeilik beskryf en die gemeenskap het luidkeels uitgeroep vir swaar vonnisse.
Ribbes en beentjies in die kind se arms, vingers en voete is gebreek terwyl sy, volgens mediese verslae, ook met 'n stomp voorwerp teen die kop geslaan is.
Volgens die landdros het die kind so 'n vrees vir haar pa ontwikkel dat sy gaan wegkruip het wanneer sy hom hoor aankom huis toe. Alhoewel geen bewyse voor die hof is dat die ma die kind aangerand het nie, het sy toegelaat dat die kind deur haar pa aangerand word. "Die ma is net so skuldig omdat sy stilgebly het oor alles."
Die hof het vir vonnis in ag geneem dat die beskuldigdes teen die einde skuldig gepleit het en albei eerste oortreders is. Die ma is ingevolge Art 276 (1) (i) tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat behels dat sy na die uitdiening van 'n sesde daarvan om parool aansoek kan doen.
Albei is onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’