Update
LADISMITH NUUS - Die Ladismith-polisie het Maandag twee persone in hegtenis geneem na 'n groep gemeenskapslede voor die hof byeengekom het.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is die verdagtes op aanklag van openbare geweld, verhindering van polisie om pligte uit te voer en intimidasie in hegtenis geneem.
"Daar was 'n optog voor die munisipaliteit waar die lede van die gemeenskap hul ontevredenheid oor misdaad in Ladismith en dienslewering deur die munisipaliteit wou oordra. Die mense het egter oproerig geraak en een van die mense het aan die stasiebevelvoerder gepluk. Die polisie se openbare orde-eenheid is ingeroep om die skare uitmekaar te jaag en 'n donderbuis is tussen die mense ingegooi," het Pojie verduidelik.
Die twee persone wat gearresteer is is Patrick Hendricks en Jan Cornelius. Hulle het reeds in die hof verskyn en is op borgtog van R1 000 elk vrygelaat. Hendricks en Cornelius moet weer op 26 April in die hof verskyn.
Ten spyte daarvan dat lede van die groep plakkate geswaai het en in Icosa-klere 'n Icosa-banier gehad het, het Bradley Bernadus, nasionale organiseerder van Icosa, aan die Oudtshoorn Courant gesê die optredes was nie 'n optog nie en dit het nie onder Icosa se vaandel plaasgevind nie.
Volgens hom was daar Vrydag 'n onsuksesvolle poging om met die munisipale bestuurder te praat en Maandag het 'n groep mense weer voor die munisipaliteit bymekaargekom om oor verskeie kwessies met die munispale bestuurder te praat.
Volgens hom was die polisie ontevrede omdat lede van die publiek glo verhoed is om by die gebou in te gaan. Hy ontken dat dit die geval was.
Lees 'n vorige artikel: ICOSA ontken verbintenis met betoging
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'